Gallery Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - 'n Tweejarige seuntjie het gesterf tydens gisteraand se busramp in Heights Road, tussen Wilderness Village en Wilderness Heights.
Volgens Ben Brinkhuis, inkomende president van SWD-rugby, is die seuntjie die kleinseun van Excelsior-rugbyklub se ondervoorsitter.
Altesaam 35 rugbyspelers en ondersteuners van Excelsior-rugbyklub van Wittedrift, Bitou, was slagoffers van die busramp.
FOTOGALERY: Op die toneel van Wilderness-busramp
Volgens polisiewoordvoerder sersant Chris Spies is daar tans nog twee persone wat in George-hospitaal behandel word, en een persoon is oorgeplaas na Knysna-hospitaal.
Die ongeluk het gisteraand net na 18:00 plaasgevind.
Brigadier Nolan Michaels van George-polisie, verskeie ander polisiebeamptes en insleepdienste het die toneel vanoggend besoek. Teen 11:00 vanoggend was betrokkenes steeds besig om die bus uit die afgrond na die pad te sleep.
VIDEO - Polisie en Insleepdienste op Wilderness-busramp toneel (Video: Michelle Pienaar).
Excelsior het gistermiddag teen NMU rugby gespeel, in 'n kusligawedstryd. Hulle was onderweg terug na Wittedrift toe die ongeluk plaasgevind het. Die bus het die pad verlaat en teen 'n afgrond afgery, en bo-op die stoep van 'n residensiële woning beland.
Brinkhuis het sy medelye aan die familie van die oorledene uitgespreek, en gesê SWD sal Excelsior bystaan op emosionele vlak, en seker maak hulle word 'n kans gegun om te herstel alvorens hulle weer moet speel in die ligawedstryde.
Volgens personeel van Wilderness Hotel is hulle gisteraand oorval met versoeke om die nooddienste te ontbied, kort na die ongeluk plaasgevind het.
Die Saasveldpad is steeds gesluit vir die publiek na vloedskade verlede November.
Vorige artikels:
- Opvolg: Een busramp passasier oorlede
- Opvolg: Rugbyspelers in busongeluk
- Bus accident in Heights Roads, near Wilderness Heights
Teen 11:00 vanoggend was betrokkenes steeds besig om die bus uit die afgrond na die pad te sleep.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'