Die George Herald het verlede week berig oor twee slagoffers wie se kaarte gekloon is en in Gauteng in onwettige transaksies gebruik is. Nog slagoffers van George het na vore gekom en dit wil nou voorkom asof 'n sindikaat plaaslik bedrywig is en dan meestal laatnag oor naweke transaksies doen met die gekloonde kaarte.
Ingrid Lourens het vertel sy het vroeg in Julie haar laaste transaksie met 'n kredietkaart by 'n plaaslike winkelsentrum gedoen. "Die betrokke Saterdagnag om 23:56 het ek 'n selfoonboodskap ontvang dat daar R2 600 uit my rekening getrek is. Nog voor ek die bank se na-ure nommer kon bel om die kaart te stop is nóg R3 000 uit die rekening getrek." Dieselfde het in Junie 2011 met haar man Bennie Lourens gebeur.
James de Waal het aan die George Herald gesê die bank het hom vanuit Johannesburg gebel en gesê iemand het 'n transaksie met 'n gekloonde kaart van hom gedoen. Hy het sy rekening onmiddellik gestop, maar die geld was reeds afgetrek. In 'n ander geval is 12 transaksies van meer as R10 000 met Johan le Roux se bankkaart gedoen. Le Roux het gesê die betrokke kaart word baie min gebruik en is die laaste keer by 'n plaaslike vulstasie gebruik voor die gekloonde kaart in Soweto gebruik is.
In Jan Richter se geval was die bedrieërs nog slimmer. Hulle het sy selfoon se simkaart gekloon en op sy
internetbankdienste ingegaan, sy sekerheidsbesonderhede verander en twee transaksies van R6 000 en R9 000 gedoen. Die George Herald het nog meer klagtes ontvang en by die polisie gaan navraag doen oor die kloning-sindikaat.
Video-materiaal van hoe die bedrieërs die kaarte kloon word heel moontlik vandag nog deur spesialis-ondersoekbeamptes aan die George Herald beskikbaar gestel. Kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder het egter gewaarsku dat mens nóóit jou bankkaart onder jou oë moet laat uitgaan nie. Volgens Pojie is die goue reëls om self by die betaalpunt toesig te hou oor die transaksie, om jou kaart self te hanteer, om nie jou kaart buite sig te laat gaan nie en om nie jou geheime nommer aan die verskaffer bekend te maak nie.
* More victims of cloned bank cards used in fraudulent transactions have complained to the George Herald. Investigators of a specialised investigation unit will most probably release video footage today of how the cards are cloned.


ARTIKEL: CHRISTO VERMAAK, GEORGE HERALD-JOERNALIS