Die man wat hy gehuur het om haar te vermoor, Jimmy Sampson (48), het 15 jaar tronkstraf gekry. Emosioneel belaaide tonele het na die tyd in die hof tussen familielede van al die betrokke families afgespeel.
Stellenberg, 'n plaaslike sakeman en Sampson, wat geen vreemdeling in die tronk is nie, het strak voor hulle uitgestaar terwyl regter A Schippers hulle gevonnis het.
Stellenberg en Sampson is Maandag skuldig bevind op aanklagte van poging tot moord na die aanval op Frendeline op 19 Februarie by die egpaar se huis in George-Suid. Sy is 23 keer in haar gesig, hande, arms, rug en nek gesteek.
Regter Schippers het Maandag, voordat hy Stellenberg skuldig bevind het, gesê die getuienis teen hom is oorweldigend en dat sy weergawe vals en onsinnig is omdat dit nie met die feite strook nie. Hy het gister tydens die vonnisverrigtinge gesê Stellenberg was die brein agter die aanval; dat hy die slagoffer gekies het; en so ook vir Sampson en die omstandighede waaronder die aanval plaasgevind het. Hy meen ook dat Stellenberg geen berou toon oor die voorval nie en volhard het met die ontkenning van die waarheid.
Sampson het wel berou getoon, het regter Schippers gesê, deur sy bekentenis kort na sy arrestasie en deur die vergifnis wat hy Frendeline gevra het. Tog was Sampson op die dag van die aanval gewillig om 'n weerlose vrou wreed aan te val, selfs al het hy genoeg tyd gehad om daaroor te besin.
Sampson se lang lys van vorige veroordelings, waaronder verkragting, roof en aanranding, het ook nie in sy guns getel nie. Adv. K Pillay het vir die staat verskyn, adv. D Rajkmar van die regs-hulpraad vir Sampson en mnr. Oliff D'Oliviera vir Stellenberg. Regter A Schippers is bygestaan deur 'n assessor, mnr. GJ Brandt.
Klik hier vir 'n vorige nuusflits.
Klik hier vir 'n onderhoud met Frendeline.

Jimmy Sampson (links) en Karl Stellenberg gister na hulle gevonnis is.
ARTIKEL EN FOTO'S: LIZETTE DA SILVA, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'