Guardner Govere (24), 'n Zimbabwiër, staar 10 klagtes van strafbare manslag in die gesig asook 'n moontlike immigrasiewetklag.
Hy het Vrydag in sy bebloede uniform wat hy die dag van die ongeluk aangehad het in die hof verskyn en het heeltyd na sy voete gestaar. 'n Tolk is ook geroep omdat Govere se huistaal Shona is. Dit is een van 16 amptelike tale in Zimbabwe.
Govere se prokureur, Vaughn Shone, het gevra dat borgtog Vrydag reeds aan sy kliënt toegestaan moes word, maar Zukile Mqulo wat vir die staat opgetree het, het gesê dat 'n verklaring van binnelandse sake toon dat Govere se werkspermit al in 2012 verval het.
Shone het egter aangedui dat sy werkspermit, waarvan hy 'n afskrif het, eers in 2016 verval. Mqulo het ook gesê dat hulle nog nie kon vasstel wat Govere se vaste adres in die Strand is nie.
Daar is in die hof gesê dat Govere sedert 2012 in Suid-Afrika is.
Landdros Lorraine Samuels het die saak tot Woensdag vir 'n borgtogaansoek uitgestel. Sy het gevra dat die departement van binnelandse sake in die hof kom getuig oor die wettigheid van Govere se werkspermit.
Die ongeluk waarin tien mense, waaronder 'n seuntjie van vyf dood is, het Donderdagoggend net voor 02:00 op 'n skerp draai sowat 13 kilometer buite Oudtshoorn plaasgevind. 'n Ambulans wat toevallig vanaf George na Oudtshoorn onderweg was, het enkele minute na die ongeluk op die grusame toneel afgekom en hulp ontbied. Bykans 20 noodvoertuie het na die toneel gehaas en pasiënte na hospitale in George en Oudtshoorn geneem. Altesaam 37 beseerdes is by die Oudtshoorn-hospitaal opgeneem.
Die bus het in die draai omgeval, op die regtersy te lande gekom en oor die pad geskuif tot teen 'n rotswand. Verskeie liggame het onder die bus beland en is erg vermink.
Volgens aanvanklike verklarings deur die polisie is elf mense dood, maar kapt. Malcolm Poje, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het Vrydag 'n regstelling gemaak waarin hy bevestig het dat die getal sterftes tien is.
Dit blyk dat liggaamsdele in een van die liggaamsakke die verwarring veroorsaak het.
Die N12 tussen George en Oudtshoorn was vir bykans ses ure gesluit vir opruimingswerk.
'n Nooddienswerker wat op die toneel was, het gesê dat die busbestuurder lig beseer was, maar erg aan skok gely het. Die bestuurder is Donderdagmiddag omstreeks 15:00 in hegtenis geneem op 11 klagtes van strafbare manslag, wat later na tien verander is.
In 'n mediaverklaring wat Donderdag deur Intercape uitgereik is, het hulle bevestig dat die bus in Februarie die vereiste padwaardigheidstoets geslaag het en aan die begin van Mei ook remtoetse geslaag het. Hulle het bevestig dat daar 49 passasiers, die bestuurder, medebestuurder en kajuitbeampte tydens die ongeluk op die bus was.
LEES 'N VORIGE ARTIKEL

Die ongelukstoneel verlede Donderdagoggend omstreeks 07:00.
ARTIKEL: LIZETTE DA SILVA EN LIEZL VAN NIEKERK
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'