GEORGE NUUS - Die brand wat vroeg vanoggend die Millies sakeonderneming in Blanco verwoes het, is onder beheer.
Die oorsaak van die brand by Millies Superette, een van George se oudste en bekendste sakeondernemings, is in die stadium onbekend. By die onderneming is onder meer ‘n bakkery en ‘n slaghuis bedryf.
‘n Woordvoerder van die George-brandweer het aan die George Herald gesê teen 08:00 was die brand reeds onder beheer. Brandweerpersoneel van George en die Garden Route-distriksmunisipaliteit is ingespan om die brand te blus.
Brandbestrydingspersoneel sal op die toneel bly om die situasie te monitor. ‘n Ondersoek na die oorsaak van die brand sal gedoen word.
Tydens die George Herald se besoek aan die toneel het geskokte inwoners gekyk hoe brandbestydingspersoneel die brand blus. Rook het by die dak uitgeborrel en ‘n swaar rookreuk het in die lug gehang.
Onder die aanwesiges was die eienaar, Jacques Matthee en werknemers van die onderneming. In een stadium het hulle in ‘n kring gestaan en ‘n gebed gedoen.
Die wyksraadslid vir die gebied, Jean Safers het ook die toneel besoek. Safers het gesê dit is ‘n groot skok. “Jacques doen baie vir die gemeenskap.”
Matthee het vertel dat die alarm by die onderneming omstreeks 4:20 geaktiveer is. Hy het dadelik daarheen gery. Met sy aankoms, sowat 10 minute later het hy vlamme op die dak gesien.
Volgens hom is die plek totaal verwoes. In die stadium is dit nie seker wat die toekoms inhou nie. Daar is 25 werknemers in diens by die onderneming. Hy het dit as ‘n nagmerrie beskryf. “Ek is geskok.”
Die onderneming bestaan al 50 jaar en hy is die laaste 8 jaar daarby betrokke. Daar sal nou met die eienaars van die gebou gepraat word oor die pad vorentoe.
Hy wou nie spekuleer oor die oorsaak van die brand nie, maar het bygevoeg daar is die moontlikheid dat daar in ‘n inbraak was.
Werknemers van Millies in Blanco en ander belanghebbendes staan in 'n gebedskring vanoggend naby die brandtoneel. In die middel (met sy rug na die kamera) staan Jacques Matthee, eienaar van die onderneming. Foto: Eugene Gunning
Kyk videos en lees 'n vorige artikel hier.Brand by Millies in Blanco.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'