Update
GEORGE NUUS - Dit is 'n maand ná die dood van Shaun Pyler (19) van Pacaltsdorp en sy ouers, Jackie en Jeff, leef steeds in 'n nagmerrie.
"Ons hoop en vertrou dat die wet sy gang sal gaan, maar intussen verwerk ons nog die kwaad en hartseer. Die ondersoekbeampte het ons Maandag 28 Junie kom sien en dit was verblydend om terugvoer te kry. Ons besef die polisie is onder druk, maar ons wil hê die saak moet afgehandel word," het sy ouers gesê.
'n Groep van sowat 25 vriende en gemeenskapslede het hul ongelukkigheid oor die hantering van die saak uitgespreek deur Maandagoggend deel te neem aan 'n optog na die Pacaltsdorp-polisiestasie.
"Ons is ontevrede oor niemand nog in hegtenis geneem is nie. Die persoon verantwoordelik vir Shaun se dood loop nog daar buite," het een van Pyler se vriende, wat deel was van die optog, gesê.
Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, het by navraag bevestig die ondersoek is aan die gang. "Daar is reeds verskeie verklarings geneem. Sodra die ondersoek voltooi is sal dit aan die nasionale vervolgingsgesag voorgelê word vir 'n beslissing," het Spies gesê.
LEES HIER: 'Hy is te vroeg van ons weggeneem'
Pyler is Sondagaand, 29 Mei, by 'n partytjie in Andersonville met 'n mes doodgesteek ná 'n beweerde onderonsie tussen hom en nog 'n persoon by 'n huis in Valksingel. Hy het agt steekwonde opgedoen waarvan een sy lewer getref het.
Die verdagte, wat sedertdien ontslaan is, is ook ernstig beseer en in die hospitaal opgeneem. Hy is ook verskeie kere gesteek en sy long is getref. Hy het 'n teensaak van poging tot moord teen Pyler aanhangig gemaak.
Pyler sou op 15 Junie sy 20ste verjaarsdag vier.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'