Update
GEORGE NUUS - Medelye vir die Pyler-gesin van Pacaltsdorp stroom sedert Sondagoggend in op sosiale media ná hul 19-jarige seun, Shaun, Saterdagaand, 29 Mei, doodgesteek is.
Sy ouers, Jackie en Jeff, is in rou gedompel en onthou hul seun as 'n sagte, stil kind.
"Ons gaan hom vreeslik baie mis. Hy is weg maar sal nooit vergeet word nie. Ons seun was 'n baie vriendelike en sorgsame kind. Hy was altyd meer bekommerd oor ander as oor homself en hy was 'n regte mense-mens. Dit is net wéér bewys deur die ongelooflike ondersteuning wat ons uit die gemeenskap ontvang het hierdie week," vertel sy ouers.
Pyler sou oor minder as twee weke, op 15 Junie, sy 20ste verjaarsdag gevier het. "Hy was baie opgewonde daaroor. Ek weet nog nie hoe ons hier gaan deurkom nie, maar ek weet en glo God is langs ons. Ons wil die mooi herinneringe koester en nie die manier waarop hy van ons af weggeneem is nie," sê sy ma.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, is Pyler by 'n partytjie in Andersonville met 'n mes doodgesteek.
"Die voorlopige ondersoek dui daarop dat daar 'n onderonsie tussen Pyler en nog 'n persoon tydens 'n partytjie by 'n huis in Valksingel was," sê Pojie.
Die presiese omstandighede rondom die moord en die beserings van die persoon wat na bewering vir Pyler doodgesteek het, is egter nog onduidelik. "Ons is nog besig om getuienisverklarings te versamel wat ons meer duidelikheid sal gee oor presies wat daar gebeur het," het Pojie gesê.
Pyler is verskeie kere met 'n mes gesteek en het later in die hospitaal aan sy wonde beswyk.
Die verdagte is ook ernstig beseer en is in die hospitaal opgeneem. Hy is ook verskeie kere gesteek en sy long is getref. Hy is egter reeds uit die hospitaal ontslaan.
"Die verdagte het 'n teensaak van poging tot moord teen die oorledene aanhangig gemaak. In hierdie stadium is niemand in hegtenis geneem nie," het Pojie gesê.
Volgens onbevestigde inligting het Pyler agt steekwonde opgedoen waarvan een sy lewer getref het. Daar was glo 'n onderonsie tussen twee persone en hy het tussenbeide getree.
'n Gedenkdiens vir Pyler is op Woensdag 2 Junie in die St. Albans-gemeente in Pacaltsdorp gehou.
Medelye vir die Pyler-familie het nog teen Woensdagoggend op die plaaslike Facebook-blad, Pacaltsdorpers Staan Saam, ingestroom.
Shaun Pyler was beslis geliefd onder lede in sy gemeenskap.
Vorige artikel: Moord in Andersonville: Partytjiegangers raak slaags
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'