GEORGE NUUS - Leerondersteuners en leerondersteunersadviseurs van oor die Suid-Kaap en Sentraal-Karoo het verlede week opleiding ontvang sodat hulle die Doen en Leer-leesprogram by skole in die streek kan aanbied.
Die opleiding deur die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD), in samewerking met die ATKV en Ghoené Marketing, het geskied in die saal van Pacaltsdorp Primêr.
Skoolkinders wie se leesvermoë nie op standaard is nie, kry baie spesiale aandag in skole in die streek deur middel van dié leesprogram.
Volgens Hettie Visser, die streekkoördineerder van leerondersteuning by die WKOD, is 95 leerondersteuners by die projek betrokke. Hulle onttrek kinders op 'n gereelde basis uit klasse om dan in klein groepies leeslesse te ontvang.
"Die departement het die ATKV genader vir 'n gepaste program sodat daar eenvormigheid in die opleiding by al die skole kon wees. Die leesprogram word al vir 'n aantal jare in die Suid-Kaap en Sentraal-Karoo aangebied.
"Die impak op die leerders is ongelooflik. Hulle raak gemotiveerd en ontwikkel selfvertroue. Ewe skielik gaan die wêreld van leer vir hulle oop en hulle besef hulle kán eintlik leer," sê Visser.
Die behoefte by skole vir hierdie tipe ondersteuning is baie groot. Met klasse van tot 40 kinders wat algemeen is, is dit nie vir onderwysers altyd moontlik om die nodige individuele aandag te gee nie. Die ontwikkeling van die leesvermoë van kinders wat sukkel, bly agterweë en dit beïnvloed hulle hele skoolloopbaan en toekoms. "Tans word die program vir tot 160 kinders per week per skool aangebied. Hulle word in klein groepies van ongeveer agt geleer. Ons het te min spesiale skole in die streek en nie al die kinders wat in sulke skole behoort te wees, kan geakkommodeer word nie. Deur hierdie program kan ons sulke leerders ook help."
Die departement hoop om binnekort ook leerondersteuning in wiskunde aan te bied.
Wyle dr. Rose Botha, wat 60 jaar se ondervinding in die onderwys gehad het, het die Doen en Leer-leesprogram ontwikkel.
Dit is 'n aanvangs- en intervensie-leesprogram wat aan enige ongeletterde persoon genoeg selfvertroue gee om te kan lees. Klank, lees, skryf en terapeutiese oefeninge is deel van die les.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'