GEORGE NUUS - Die strandoord by die Gwaiingriviermond is terug in die sorg van George-munisipaliteit. Die George-raad het tydens 'n spesiale raadsvergadering Maandag besluit om die huurooreenkoms tussen die George-munisipaliteit en Aqua Eden-vakansieoord te kanselleer.
Dit geskied sonder enige vergoeding vir verbeteringe aangebring deur Aqua Eden. Die oord sal voortaan deur die direktoraat gemeenskapsdienste bestuur word, alvorens die raad 'n ander besluit oor die oord se toekoms neem.
Aqua Eden het 'n 25-jaar huurooreenkoms met George-munisipaliteit gehad, wat in September 2024 sou verstryk. Hulle het die oord teen
R2 000 per maand gehuur. Die raad is ingelig dat die huurder ingevolge die ooreenkoms nie al hul verpligtinge nagekom het nie.
"Die huurder (LT Kreeve) eis dat hy nie in 'n posisie was om die eiendom te ontwikkel nie as gevolg van die serwituut reg van weg wat oor die eiendom is," lui die opsomming in die agenda.
"Daar is verskeie vergaderings met die huurder gehou om moontlike ontwikkelingsopsies te bespreek, maar niks het gerealiseer nie. 'n Skrywe is onlangs van die huurder ontvang waarin hy versoek dat die beëindiging van die huurooreenkoms ondersoek moet word en dat daar onderhandel moet word vir vergoeding vir die verbeteringe wat op die eiendom aangebring is."
ANC-raadslid Charlie Williams, het die aanbeveling aan die raad ondersteun en gesê die eiendom moet teruggeneem word. PBI-raadslid Patrick Buys, het gesê sy party het die laaste tien jaar gesmeek dat die oord terug geplaas word in munisipale beheer.
Volgens Buys is baie politieke druk op die vorige en huidige raad geplaas om die strandoord terug te plaas onder munisipale beheer, tot voordeel van die gemeenskap van Pacaltsdorp.
"Die vorige regerings het die wens van die mense ondermyn. Die PBI het reeds sy diepe kommer uitgespreek teenoor die burgemeester in ons eerste amptelike gesprek oor die Gwaiingriviermond en sy agteruitgang."
Buys het gesê die PBI is verheug dat hul versoeke en pleidooie gehoor is. "Die gemeenskap van Pacaltsdorp kan nou weer eienaarskap neem van hul natuurlike bronne. Ons versoek dat die publiek vrye toegang gegee word en ook dat die geriewe in stand gehou word."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'