GEORGE NUUS - Deur flinke optrede en saamstaan deur die Pacaltsdorp-gemeenskap, is die welbekende Norman Marks, of Oom Norman - soos hy bekend is, en sy geliefde erfstuk-saksofoon herenig ná dit byna twee weke gelede uit sy motor se kattebak gesteel is.
Oom Norman, die leier van Eden Ministries Band, het Saterdagaand 18 Junie vanaf 'n optrede in Jeffreysbaai teruggekeer en sy motor by sy erf ingetrek.
Hy het egter nie sy musiekinstrumente uit sy kar gelaai soos hy gewoonlik doen nie en die volgende oggend met skok besef al sy instrumente is gesteel.
Die saksofoon wat gesteel is, dateer uit die vyftiger jare. Hy het dit, asook twee kitare en 'n banjo, by sy pa, Davy, geërf.
"Ek was letterlik siek van bekommernis," vertel hy. "Ek het al die instrumente by my pa geërf ná hy op sy doodsbed vir my gevra het om dit op te pas en die band aan die gang te hou. Jy sien, dit gaan nie oor die geldwaarde nie. Dit gaan oor die sentiment."
Oom Norman het dadelik sy vriende, familie, Pacaltsdorp-polisie en die buurtwag van sy situasie in kennis gestel en sy twee kitare en die banjo is Maandag 20 Junie, by 'n huis in Moeggeploeg gevind.
Volgens oom Norman, het die man wat in besit van sy instrumente was, dit by twee verdagtes wat later in hegtenis geneem is, teen 'n winskoopprys van R120 gekoop. "Die snare op daardie instrumente is meer as dit werd," lag hy.
Deur inligting uit die gemeenskap op te volg het Pacaltsdorp-polisiëringsforum se voorsitter, Charly Daman, en 'n lid van Pacaltsdorp-polisie, een van die verdagtes verlede Vrydag, 24 Junie, by die George-landdroshof opgespoor waar hy in verband met 'n saak van huisbraak moes verskyn.
Die ander verdagte, is kort daarna in die George-hospitaal opgespoor ná hy in 'n onverwante voorval aangerand is. Die saksofoon is later die dag in Seesig opgespoor.
Oom Norman se suster, Blanche Benjamin, het niks behalwe lof gehad vir almal wat bygedra het om die musiekinstrumente te vind nie. "Baie, baie dankie aan Hoogekraal-buurtwag, Charly Daman, pastoor Juter en die Pacaltsdorp-gemeenskap vir hul hulp en besorgdheid. My broer het al sy instrumente teruggevind. God seën julle," het sy gesê.
Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, het bevestig dat twee verdagtes van onderskeidelik 39 en 26 jaar oud, in hegtenis geneem is.
Die verdagtes was geskeduleer om Maandag 27 Junie in die George-landdroshof te verskyn, maar is deur die hof vrygelaat hangende verdere ondersoek. Sodra die ondersoek voltooi is, sal die verdagtes weer voor die hof gedaag word.
Norman Marks (heel regs) saam met sy pa, Davy Marks (links) en sy broer Kenny toe hul pa nog geleef het. Die familie verskaf al langer as 50 jaar musiek aan die Suid-Kaap.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'