GEORGE NUUS - Onwettige storting op 'n oop ruimte en rondloperplaasdiere in Hedgeweg, Pacaltsdorp gee inwoners in die omgewing hoofbrekens.
Volgens Marilyn Korunna wat oorkant die oop grond woon, is mense argeloos in wat hulle op die perseel afgooi.
"Dis nie net tuinvullis nie, maar ook huishoudelike afval en dit lok elemente wat 'n veiligheidsrisiko inhou. Hier woon baie bejaarde mense wat kwesbaar is. Die munisipaliteit het ook 'n groot boom op die perseel afgesaag en dit net daar gelos."
Die George-munisipaliteit het 'n vorige keer in reaksie op Korunna se klagte die erf skoongemaak, maar alles wat hulle uitgehaal het op 'n hoop gegooi, wat nou nog daar lê en reeds oorgroei is met gras.
"Ons betaal belasting en voel dit is darem nie aanvaarbaar dat die plek so verwaarloos word nie. Dit lyk uiters onooglik en is reg oorkant ons huis."
Volgens Korunna het hulle ook las van plaasdiere wat in die straat mis en hulle erf binnekom wanneer hul die tuinhekkie oop laat staan.
Net 2 graaflaaiers vir hele George se opruiming
Allen Paulse, direkteur van gemeenskaps-dienste, het by navraag gesê Korunna se vorige klagtes oor die onwettige stortings is nog elke keer aangespreek.
"Op die oomblik is daar net twee graaflaaiers en ses trokke beskikbaar om opruimingswerk in die hele munisipale gebied te doen. Kritiese klagtes, waar die vullis al in die pad lê en die groot hope onooglik is en gesondheidsrisiko's inhou, kry eerste aandag. Mev. Korunna se klagte sal gelys word en so gou moontlik aandag geniet. Daar sal ook werk gemaak word om die gras te sny en bosse uit te roei," het Paulse belowe.
Klagtes oor onwettige storting en rondloperdiere moet onmiddellik by die wetstoepassingsafdeling gerapporteer word, gedurende weeksdae by 044 801 6350 en na-ure by 044 801 6300.
Paulse vra dat die publiek foto's neem en registrasienommers van voertuie aanteken om die wetstoepassingsafdeling te help om die oortreders vas te vat en te beboet. "Daar is reeds in die laaste twee weke met verskerpte optrede begin teen rondloperdiere, en verskeie beeste en perde is geskut."
Die afgesaagde boom is agtergelaat en die oop stuk grond is oorgroei.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'