GEORGE NUUS - 'n Bekende inwoner van George wat ook diep spore internasionaal getrap het, prof. Francois Hanekom, is verlede Dinsdag, 19 April, oorlede. Hy was 82 jaar oud en het kanker gehad.
Hy was wyd bekend en tot met sy dood nog baie aktief. Hanekom het ook vir baie jare 'n gewilde, intellektuele rubriek, Ons wêreld, vir George Herald geskryf.
Hy is op 11 November 1939 in Ceres gebore. Hy het later diep spore in die akademie getrap en was onder meer hoof van die Geografie departement by Unisa in Pretoria.
Hy het daarna die staatsdiens betree en was adjunk-direkteur-generaal van omgewingsake en toerisme. By tye het hy ook waargeneem as direkteur-generaal.
Die egpaar het hulle in 1993 in die Suid-Kaap kom vestig en in 'n stadium was hy hoof van die Volstruis-besigheidskamer.
Hanekom het teruggekeer na die akademie en het klas gegee op die George-kampus van die Nelson Mandela Universiteit.
Oor die jare het hy op verskeie rade gedien, insluitende die raad van Suid-Kaap Kollege en CapeNature.
Sy kundigheid het nie verlore gegaan nie en dit was algemeen bekend dat hy 'n passie gehad het vir die Montagupas. Tot kort voor sy dood het hy hom beywer dat die pas as toeristebaken tot sy reg kom.
Pieter Hanekom, wat uit Australië gekom het na sy pa se dood, het Maandag gesê sy pa was 'n absolute dromer en 'n goeie storieverteller.
"Hy was baie lief vir mense en het altyd planne gehad om dinge beter te maak. Hy was 'n goeie pa en lief vir sy familie. Hy was ook baie lief vir my ma," het Pieter gesê.
Sy vrou Hanien het beaam: "So belangrik was ons verhouding vir ons, dat ons ons huweliksbeloftes voor God en mense hernuwe het in 2016. Ons gaan hom baie mis."
Anneke Hanekom het gesê dit was vir haar pa belangrik dat sy kop altyd aan die gang moes wees. Hy het daarvan gehou om intellektuel gestimuleer te word. Hy het baie en wyd gelees.
Voorts het hy 'n goeie humorsin gehad: "Hy het altyd 'n grappie in sy sakkie gehad."
Volgens Anneke het haar pa met alle mense goed oor die weg gekom.
Dr. Dennis Farrel, 'n sakeleier, het gesê Hanekom het ontsaglike wysheid gehad. Hy het hom geken deur gemeenskaps-ontwikkelingsprojekte. "Hy het die vermoë gehad om mens uit 'n ander perspektief na 'n saak te laat kyk. Hy was 'n visionêre dog nederige mens."
Hanekom word oorleef deur Hanien en hul twee kinders, Pieter en Anneke. Twee van die egpaar se ander kinders, Francois en Lize, is reeds 'n paar jaar gelede oorlede.
'n Gedenkdiens is Dinsdag vir Hanekom gehou.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'