Update
GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Die N2 tussen Glentana en Groot-Brakrivier is steeds gesluit nadat twee vragmotors in 'n ongeluk betrokke was.
Volgens die Suid-Kaap polisiewoordvoerder, kaptein Malcolm Pojie was die bestuurder van een van die vragmotors om ongeveer 02:00 onderweg na George toe hy beheer oor die vragmotor verloor het.
Die vragmotor het deur die N2 middelman en in die eenrigtingbaan van die N2 wat verkeer na Mosselbaai neem beland. Boonop het die waens wat aan die vragmotor gekoppel was oor die pad en om 'n draai naby die Glentana uitkykpunt gelê.
Pojie sê 'n 48-jarige man van George het met sy bakkie op die toneel gestop en probeer om aankomende verkeer in die rigting van Mosselbaai te waarsku.
'n Volvo vragmotor wat kort daarna in die rigting van Mosselbaai onderweg was kon egter nie betyds stop nie en het in die man en die omgeslaande vragmotor vasgejaag. "Die man is op die toneel dood verklaar."
Volgens Pojie is 'n 37-jarige passasier wat in een van die vragmotors was ook op die toneel dood verklaar. "Die man is oorspronklik van Port Elizabeth."
Twee mans is met beserings na die George Provinsiale Hospitaal afgevoer en twee mans en 'n vrou wat ook op die toneel gevind is, is deur paramedici op die toneel behandel.
Een van die vragmotors het Castle Lites vervoer en teen 09:00 Donderdagoggend was die padoppervlakte met bierblikkies- en bottels bestrooi. Die ander vragmotor het vleis vervoer.
Die name van die oorledenes kan nog nie bekend gemaak word nie omdat familie van die voorval eers ingelig moet word.
Die Groot-Brakrivier-polisie ondersoek 'n saak van strafbare mansslag.
Lees 'n vorige artikel: N2 gesluit na ongeluk
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER
'Ons bring jou die nuutste Groot-Brakrivier, Tuinroete nuus'