WILDERNESS NUUS - Vyf persone is beseer in 'n ongeluk vroeër vandag op die N2-snelweg in Wilderness. 'n G4S-voertuig en 'n BMW het teen mekaar gebots. 'n Derde voertuig het ook van agteraf in die BMW vasgery. Die presiese oorsaak van die ongeluk is onbekend op die stadium.
ER24 het twee persone met ernstige beserings na die hospitaal vervoer en Metro-nooddienste een met ernstige beserings en twee met ligte beserings. Niemand in die G4S-voertuig is beseer nie.
Munisipale woordvoerder, Chantel Edwards-Klose, het vroeër gesê die snelweg is oop, maar verkeersvloei is stadig weens 'n opeenhoping. Opruimingswerk op die toneel is byna klaar. Motoriste word gevra om versigtig te ry.