Update
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die Wes-Kaapse onderwyshoof, Brian Schreuder, het die week skole in die Eden en Sentraal-Karoo-distrik besoek. Hy was Maandagoggend by Olympia-vaardigheidskool vir 'n kort besoek.
Van die ander bestuurslede het ander skole in die distrik soos Rosemoor Primêr, Imizamo Yethu Sekondêr, Jonga Street Sekondêr, Thembalethu Sekondêr, PW Botha-kollege, Tabatha Street Primêr en Heidedal Primêr besoek.
Bronagh Hammond, 'n woordvoerder van die WKOD, sê die besoek maak deel uit van die uitvoerende bestuur se kwartaallikse besoek. "Hulle besoek elke eerste en tweede kwartaal skole asook die distrikskantoor."
Gerhard Haupt, skoolhoof van Olympia, was Maandagoggend baie trots dat Schreuder sy skool gekies het om te besoek. Hy sê daar is gekyk na die skool se fasiliteite asook die "transform to perform" strategie wat Schreuder met passie dryf.
Haupt sê: "Ons glo ook aan Enter to learn, Exit to serve, wat een van Schreuder se visies is." Hy sê met die visie wil hulle hê die kinders moet besef as hulle die skool inkom dat hulle moet kom leer, en as hulle klaar is om te gaan dien. Hy sê hulle glo ook aan Schreuder se passie van 'n waardestelsel.
Gerard Haupt, hoof van Olympia Vaardigheidskool, oorhandig 'n skooldag aan Brian Schreuder die onderwyshoof.
"Dis waar 'n waarde per maand gekies word. Dit moet oral op die skoolperseel sigbaar wees en die kind moet dit leef."
Kyk 'n video hieronder:
Hammond sê Schreuder en sy span het kom kyk na die kwaliteit onderwys wat elke kind in die klaskamer kry. "Na die skole se besoek het hy ontmoet met die distriksdirekteur en al die uitvoerende bestuurslede."
Volgens Hammond is die "transform to perform" strategie bespreek asook die vordering van E-leer. Daar is ook gekyk na of skole ten volle funksionele organisasies is, dat kwaliteit onderwys in klaskamers plaasvind, dat skole reg bestuur word asook die distrik se vordering in gr. 12 nasionale eksamens.
Schreuder was baie opgemaak met die tipe onderwys wat by Olympia Skool aangebied word.
Gerhard Haupt, hoof van Olympia-vaardigheidskool, hier saam met Brian Schreuder (HOD) en Raybin Figland (SBL-voorsitter).
Lees 'n vorige artikel: HOD besoek George
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'