Video
GEORGE NUUS - Wolhaarstories, speelse poetse en TikTok-video's is geheime wapens waarmee Edmondo van der Berg, 'n gr. 7-onderwyser by Pacaltsdorp Primêr (PPS), sy klas se aandag ten volle behou. Hierdie man maak dit sy werk om kinders positief te hou en 'n verhouding met sy klas te bou, op 'n manier wat die jongklomp verstaan.
Van der Berg is bekend vir sy kreatiewe onderrigmetodes, insluitend "vriendelike leuens" om leerders se aandag te trek en hul nuuskierigheid te prikkel.
Hy vertel gereeld wolhaarstories wat hulle vining identifiseer as 'n leuen, maar kan tog nie help om te luister nie, want dit is so interessant.
Sowat 'n maand gelede het Van der Berg begin om sy klaskameraktiwiteite op TikTok te deel, met die doel om herinneringe vir sy leerders te bewaar voordat hy PPS na die Julie-skoolvakansie verlaat vir 'n bevorderingspos in Kuilsrivier. Sy kreatiewe en humoristiese benadering het vinnig aandag getrek, met drie top TikTok-video's wat byna agt miljoen kykers gelok het.
Klik hier om Van der Berg se TikTok-kanaal te sien.
Gr. 7B se klas in ligte luim.
Speelse interaksie
In die een video wat sowat 4 miljoen keer gesien is, ding die leerders mee om te sien wie die langste seun in die klas is, en meet hulself teen hul meneer. Die stereotipering van laerskoolleerders as "nog klein" word hier ondersoek.
Die video wys die kinders se entoesiasme en Van der Berg se speelse interaksie met hulle.
TikTok-video: Kyk hoe lank is hulle!
Nog 'n TikTok-video het 3,5 miljoen kykers gelok en wys Van der Berg op skoolfotodag saam met die leerders, waar hulle poseer en hy hul verskillende lyfhoudings naboots.
Die video word vergesel met 'n spesiale boodskap vir sy klas, wat hy gaan mis. Die video het ouers en kykers met sy opregtheid geraak.
TikTok-video: Fotodag met hul klasonderwyser
'n Humoristiese video waar leerders kom kyk wie Van der Berg se "gunstelingleerder" is, net om hulself in 'n spieël te sien, het sowat 500 000 kykers gelok. Hierdie was 'n slim manier om elke kind spesiaal te laat voel.
TikTok-video: Gunsteling leerder in die klas
"Die video's is bedoel om pret te wees, maar ook om kinders te wys dat skoolgaan en leer lekker is," sê Van der Berg. Hy maak seker dat ouers se toestemming verkry word vir sosiale media-deelname, in ooreenstemming met PPS se mediabeleid.
Sy inhoud versterk die band tussen onderwysers, leerders en ouers, en bied 'n geleentheid om die positiewe dinamika in sy klaskamer te ervaar.
Jaden October (14) kies 'n unieke posisie.
Veilig voel, pret hê
"Ons klasleuse is: 'Jy kan dit maak!'," sê Van der Berg. "Ek is oortuig daarvan dat 'n stewige fondasie in die laerskool nodig is vir 'n suksesvolle toekoms. Leerders moet veilig voel, hulle moet pret hê en hulle moet leer in 'n omgewing waar hulle voel hulle behoort."
Van der Berg is oortuig 'n onderwyser se verhouding met hul leerders is die hart van onderwys. "Die kinders maak jou dag," sê hy.
"Hulle tel jou op wanneer jy af is en dra jou deur die stres." Hy glo dat onderwysers, ondanks uitdagings, altyd die positiewe in leerders moet uitlig en hul selfvertroue moet bou.
Kiano Booysen (13), regop en statig vir die kamera.
Nuwe begin
Na sewe jaar by PPS het Van der Berg 'n pos as e-leeradviseur in Kuilsrivier aanvaar. In hierdie rol sal hy skole besoek om onderwysers te ondersteun in die integrasie van tegnologie in die klaskamer. Sy fokus is om onderrig te verbeter met moderne hulpmiddels soos interaktiewe witborde, visualisering, video's, PowerPoints, 3D-beelde en aanlyn toetsplatforme.
"Ons sit met leerders in die 21ste eeu," sê Van der Berg. "Ons moet dit gebruik om lesse interessanter en interaktief te maak."
Hy beskryf sy band met PPS as diep persoonlik. "As oudleerling voel die leerders soos my eie kinders. Ek gaan hulle vreeslik mis."
Gr. 7B-klas in 'n rare ernstige luim, saam met hul onderwyser, Esmondo van der Berg.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’