GEORGE NUUS - Die Pacaltsdorp ondersteuningsgroep vir traumaberading, Hope, wat sedert Maart 2021 bestaan, is gebore uit die pyn en hartseer van die Covid-19-pandemie waar talle families met die dood van verskeie familielede binne kort tye van mekaar kennis gemaak het.
Een van die beraders, Marina Tiger, sê die pastorale sorg, berading en wedersydse ondersteuning het daartoe bygedra dat die lede van die groep tans op 'n beter plek is en die lewe met hoop, positiwiteit en waagmoed aandurf.
"Die lede het met die besef en empatie dat daar baie ander kwesbare mense is wat verwond deur die lewe gaan as gevolg van seer en verwerping, besluit om hul hand na sulke persone uit te strek. Seer is 'n faktor wat soms lei tot die ontsporing van lewens indien dit nie aangespreek word nie," sê Tiger.
In November het die groep 'n spesiale byeenkoms gehad met slagoffers van geweld en trauma met wie hulle beoog om 'n pad te stap om 'n bydrae te maak tot hul herstel en genesing.
Die groep nooi alle belangstellende persone of organisasies uit om kontak te maak met die kerkkantoor van die Pacaltsdorp AGS kerk by 044 878 0755 of Marina Tiger by 079 517 2011 of pastoor Ann Maarman (pastorale berader) by 079 327 3273.
Die ondersteuningsgroep vir traumaberading, Hope, van die AGS Pacaltsdorp-gemeente.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'