Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die 21ste September is Wêreld Alzheimerdag. Dit is ‘n sluipende siekte wat ‘n groot inpak op ‘n persoon en sy gesin kan hê. Die doel van Wêreld Alzheimerdag is om die samelewing meer bewus te maak van hierdie gevreesde siekte.
Hierdie siekte beperk verstandelike funksionering en gaan met vergeetagtigheid gepaard. Dit is uiters belangrik om hierdie siekte vroeg te diagnoseer. Alhoewel die siekte nie genees kan word nie kan dit met groot sukses behandel word.
By JJ Watson tehuis vir bejaardes is ook ‘n hele paar persone met Alzheimer se siekte. Volgens Okkie Stander, bestuurder van Huis JJ Watson, is daar ‘n paar simptome wat hulle dophou om te bepaal of ‘n inwoner die siekte ontwikkel.
Stander vertel dat die pasiënte begin vergeet waar hulle kamer is en wanneer hulle uit die eetsaal kom weet hulle nie waarheen om te gaan nie. Hulle kan vergeet wat hulle die oggend geëet het nie en ook wat hulle deur die dag gedoen het. Hulle hou hul kamerdeure oop en trek nie meer nuwe klere aan nie.
Sodra die personeel agterkom dat hulle ’n probleem het tree hulle ondersteunend op. Die siekte kan nie gesond gemaak word nie, maar hulle probeer die pasiënte stimuleer en doen baie aktiwiteite om hulle breinfunksie aan die gang te hou. So kan hulle die siekte se verloop verstadig.
JJ Watson het op die oomblik drie lopende en vier bedlêende pasiënte. JJ Watson neem nie Alzheimer-pasiënte in nie omdat dit ongelooflike mannekrag en fasiliteite benodig. Hulle ondersteun en behandel pasiënte wat wel tydens hul verblyf by die huis vir bejaardes die siekte ontwikkel soos Patty Burgess wat op haar dag 'n prima ballerina in Londen was en in baie operas gedans het.
Hulle gee haar spesifieke take om te verrig, soos om die blommerangskikkings te doen en die tuin nat te maak. Sy moet ook voor elke ete die servette op die tafels dek. Sy geniet hierdie take vreeslik baie. Sy is steeds lief vir dans en dans gereeld in die gange. JJ Watson het haar laat inskakel by die George-balletskool. Die dansskool het al gesê dat hulle al baie by Patty geleer het.
Kyk video hieronder.
ARTIKEL EN VIDEO: WESSEL VAN HEERDEN, DIGITALE KOÖRDINEERDER-GEORGE HERALD
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'