GEORGE NUUS - Die Rosedale-brand wat op Sondag 8 Desember uitgebreek en verskeie families dakloos gelaat het, word ondersoek.
Daar is beweer dat dit brandstigting was, maar niemand wou dit bevestig of amptelik 'n klag aanmeld nie uit vrees dat 'n ondersoek hulle langer op straat sal hou.
Benjamin Danisa, 'n gemeenskapsleier het Dinsdagoggend gesê hulle is dankbaar dat die George-munisipaliteit reeds twee strukture gebou het.
"Maar nou wonder ons hoe lank hulle gaan neem met die derde een. Gaan dit nou 'n gewag wees tot 'n ondersoek klaar is of wat?" Blykbaar is die een struktuur verlede Donderdag gebou en die ander Vrydag.
Danisa sê dis die hoeveelste groot brand in Rosedale en elke keer word daar net gesê daar kan niks gedoen word om sulke verwoesting te keer nie.
Vyf families het verlede week met hul hande in hul hare gesit oor die skade van die brand en die verlies wat dit veroorsaak het.
Gerrit Tarentaal en Benjamin Danisa by die nuwe strukture wat laat verlede week opgerig is. Tarentaal sê hulle het self ingespring en help skoonmaak.
George Herald het verlede Donderdag berig oor die brand wat volgens beweringe uit wraak was. Danisa sê hy weet van 'n bakkie met water in 'n ander plakkerskamp, wat altyd naby is sou 'n brand uitbreek.
Volgens hom is al hul vorige voorstelle van die hand gewys. Chantel Edwards-Klose, die kommunikasiebestuurder vir George-munisipaliteit, sê hulle het twee strukture reggemaak en twee strukture herbou. Sy sê hulle kan ongelukkig nie die derde struktuur bou nie omdat 'n saak van brandstigting ondersoek word.
"Sodra die polisie klaar is met hul ondersoek, kan ons voortgaan met die voorsiening van 'n struktuur."
The George Municipality last week rebuilt two structures that were destroyed in a fire on 8 December in Rosedale's informal settlement in Pacaltsdorp. A third one is yet to be rebuilt as there is currently an arson case under investigation. Another two that were damaged were fixed.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'