Onderwysers en leerders moes Dinsdagoggend vir die soveelste keer sien hoe diewe hul skool se koperpype en ander items geplunder en gesteel het. Die skool se internetkabels, waterpype, alarmstelsel en omheining is beskadig en grotendeels gesteel. Selfs een van die staal toegangshekke is gesteel en lang stukke veiligheidsdraad is afgeknip en weggedra.
Skoolhoof Peter Louw vertel dat hulle net die vorige oggend op dieselfde hartseer toneel moes afkom en die vorige twee naweke het diewe en plunderaars óók by die skool toegeslaan. "Vandalisme raak buite beheer en ek weet nie waarheen is ons op pad met die toenemende misdaad nie," het ‘n hartseer Louw gesê.
Louw vertel dat onderrig daaronder ly, aangesien die hele rekenaarklaskamer buite werking is en die lugverkoelingstelsel gebreek is. "Die kinders hier kry elk een ete per dag, wat vir sommige die enigste ete vir die dag is. Nou is ons watertoevoer af. Hoe moet ons vir hulle kos maak? Ons voedingskema staan stil as gevolg van misdaad."
Louw sê dit kos hulle derduisende rande om herstelwerk te doen en die skool sal nou sekuriteitswagte moet aanstel, wat hulle nóg ekstra geld uit die sak gaan jaag. Die polisie ondersoek die diefstal en plundery.
.jpg)
Skoolhoof Peter Louw wys waar koperpype die afgelope week twee keer by Parkdene Hoërskool afgebreek en gesteel is.
ARTIKEL EN FOTO'S: CHRISTO VERMAAK, GEORGE HERALD-JOERNALIS