Die voorval het verlede Woensdag omstreeks 13:10 by die ateljee van die van plaaslike radio-stasie, Eden FM in die Shamrock-gebou plaasgevind.
Omroeper Joan Allen sê toe sy weer sien, is die man in die altejee en begin hy doodluiters in haar handsak krap. Waar sy die krag en moed vandaan gekry het, weet sy nie, maar sy het die deur agter haar toegetrek en hom gegryp.
"Hy wou weghardloop, maar ek het hom gegryp en vasgehou want hy het my beursie met R900 daarin in sy broek gehad."
Die volgende oomblik toe sy hom stamp, val die beursie op die grond. Hy het ‘n langerige mes uitgepluk wat hy na haar maag gemik het, wat sy outomaties "byna plat ingetrek" het, vertel sy.
Die verdagte, ‘n bruin man, het nog ‘n keer na haar gesteek, maar sy kon gou genoeg koes. Hy het daarna weggehardloop, en die polisie is dadelik ontbied.
Allen sê sy besef sy kon baie seer gekry het, maar het op daardie oomblik nie daaraan gedink nie. "Dit skok my dat die man helder oordag daar instap om te kom steel en my boonop met ‘n mes aanval toe ek hom teengaan - so gemaklik."
Sekuriteitskameras het die verdagte afgeneem, maar geen arrestasies is tot dusver gemaak nie.

Joan Allen

ARTIKEL: LIZETTE DA SILVA