Video
GEORGE NUUS EN VIDEO'S - 'n Regte droom wat waar geword het, was die woorde van Gerhard Haupt, hoof van Olympia Vaardigheidskool verlede Donderdag, 9 September, by die opening van die skool se nuwe biblioteek en bronnesentrum.
Dit het saamgeval met Nasionale Boekeweek (6 tot 12 September) en Internasionale Geletterdheidsdag (8 September).
Die geleentheid is bygewoon deur verskeie belanghebbendes in die plaaslike onderwysgemeenskap, die Lions-organisasie, onderwysers en leerders.
Haupt het gesê die Woord van God is een van die belangrikste boeke wat in die biblioteek moet wees. Hy het benadruk dat 'n biblioteek 'n belangrike bron en lokaal by enige skool is en dat die skool trots is op die nuwe geriewe. Hy het 'n beroep op leerlinge gedoen om daarvan gebruik te maak en almal bedank wat by die projek betrokke was.
Kyk 'n video hieronder:
Reginald Mitchell, adjunkhoof akademies, het gewys op die waarde daarvan om te kan lees. Dit beteken onder meer dat iemand kan praat oor 'n onderwerp. Lees help jou ook om op hoogte te bly van dinge in die wêreld.
Hy het leerders gevra om seker te maak dat wanneer hulle eendag volwassenes is, daar altyd boeke in hulle huise sal wees. Dis belangrik dat die waarde van lees aan die volgende geslag oorgedra word.
Leerlinge van Olympia Vaardigheidskool en belanghebbendes by die opening van die skool se nuwe biblioteek en bronnesentrum.
Hazel Human, biblioteekkoördineerder by die skool, het gesê by die biblioteek gaan gepoog word om leerlinge met erge akademiese agterstande met hul leeswerk te help.
Die biblioteek het 'n kalm atmosfeer en hulle wil ook leerders op 'n emosionele vlak ondersteun. Volgens haar het die biblioteek baie meer as net boeke om te lees.
Lynn le Grange, hoof van leerderondersteduning Eden Sentraal Karoo-streek, het 'n gepaste T-hemp gedra. Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'