GEORGE NUUS - Die nuwe Wes-Kaapse voorsitter van die Suid-Afrikaanse Korps, John Bruinders, het groot planne. Bruinders, wat van George afkomstig is, was tot onlangs voorsitter van die plaaslike tak van die organisasie.
Hy is tydens die Wes-Kaapse kongres in George tot provinsiale voorsitter verkies. Die organisasie is 'n belangegroep van oud-Suid-Afrikaanse militêre veterane en bestaan reeds sedert 2015.
'n Nuwe 100 dae plan vir 2020 is reeds opgestel en sal binnekort tydens 'n vergadering van die provinsiale uitvoerende bestuur in Kaapstad bespreek en oorweeg word.
Dit sluit in die opstel van die provinsiale databasis, lede-voordele, verkiesing van streekleierskap en uitrek na munisipaliteite en sakeondernemings.
Bruinders het benadruk dat alle oudveterane welkom is om aan te sluit. "Jy hoef nie 'n lid van die Kaapse Korps te gewees het nie."
Die organisasie kyk na die siviele belange van lede soos nuwe sake-geleenthede, pensioene vir voormalige soldate en mediese voordele. Tot dusver het hulle baie positiewe terugvoering gekry en in George is daar byvoorbeeld al 300 lede. Dit sluit mans en vroue in. In die Wes-Kaap het die organisasie sowat 20 000 lede. Die nuwe bestuur vir George is op Sondag 19 Januarie gekies en sal Donderdagaand bekendgestel word. Vir meer inligting oor die organisasie, skakel hom by 073 856 0733.
Die nuwe Wes-Kaapse bestuur:
Voorsitter: John Bruinders
Ondervoorsitter: Kevin Jones
Sekretaris: Edwin Africa
Hulpkassier: Ivor Kammies
Kassier: Mitchell Roman
Addisionele lede: John Mitchell, Gerald Pietersen, Koos Bantam, Hendrik Metik, Frank Pieters, Ernerst Malan, Henry deVilliers, Julius Esau, Steven Zekoe en Johannes Daames.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'