TUINROETE NUUS - Die vestiging van 'n nuwe streeksakekamer (Regional Business Chamber) gaan Dinsdag 8 Maart in Knysna bespreek word.
Dit vind plaas onder die vaandel van die Garden Route-distriksmunisipaliteit.
George Herald het 'n afskrif van 'n uitnodiging onder oë gehad.
Luidens 'n dokument wat saam met die uitnodiging versprei is, is die doelwitte onder meer om:
- 'n Streeksakeraad te vestig wat al die sakekamers en forums in die streek sal verteenwoordig en;
- die vestiging van konsul-tasie strukture in die streek.
Op die agenda van die vergadering is onder meer die voorgestelde struktuur en die samestelling van 'n streeksakekamer.
Memory Booysen, burgermeester van die Garden Route-distriksmunisipaliteit, het by navraag gesê as deel van die ekonomiese ontwikkelingsplan vir die Tuinroete-distrik is besluit om al die voorsitters en administratiewe personeel van die sakekamers te ontmoet. Dit is om 'n plan uit te werk in terme van samewerking.
Daar is ook besef dat die privaat sektor in noue samewerking met die distriksmunisipaliteit, die leiding sal moet neem om sekere ondernemings weer op die been te bring.
Dr. Willie Cilliers, voorsitter van die AHi en ondervoorsitter van die George-sakekamer, het gister (Woensdag) by navraag bevestig dat hy 'n uitnodiging ontvang het.
Hy en verteenwoordigers van die 14 sakekamers in die streek wat by die AHi geaffilieer is, sal voor die geleentheid vergader. Hy kan nie in die stadium kommentaar lewer want hy wil nie die vergadering vooruitloop nie.
Die geleentheid kan slegs op uitnodiging bygewoon word, maar daar is aangedui dat die media wel die geleentheid sal kan bywoon.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete'