GEORGE NUUS - Vir baie leerlinge was gister, Woensdag 19 Januarie, nie net die begin van die nuwe skooljaar nie, maar ook die begin van hul skoolloopbane.
Reeds van vroeg het ouers en familie met hul kinders by Conville Primêr begin toustaan vir die nuwe belangrike hoofstuk in hul lewens. Eers moes die nodige Covid-19-protokolle afgehandel word voordat die kleintjies na hul klaskamers kon gaan.
Lucelle Jumat het haar seuntjie Raquelle (6), gebring om ingeskryf te word. Hulle woon in Maraiskamp. Dit was die eerste keer dat hy skool toe is. Hy was skaam, maar het tog vertel dat hy opgewonde is oor skool. "Ek is nie bang nie. Ek wil kom leer en het nog nie besluit wat ek eendag gaan doen as ek groot is nie."
Abukhanyise Mthonjeni (5), het saam met haar ouma, Georgina en haar ma, Thandokazi opgedaag. Abukhanyise is vanjaar in gr. 1.
"Ons is baie gelukkig om hier te wees, ons sien uit na die skool en dit is die skool van ons keuse," het Georgina vertel.
Lucelle Jumat en haar seuntjie Raquelle (6), Elrich Daseman, hoof van Conville Primêr en Ntombesine Nkamana saam met haar seuntjie Iphemna (5) Woensdagoggend. Hulle was reg vir die nuwe skooljaar.
Ntombesine Nkamana het haar seuntjie Iphemna (5), skool te gebring. "Ek is gelukkig om hier te wees. El wil eendag 'n dokter word," het hy gesê.
Elrich Daseman, hoof van die skool, het gesê die finale syfers sal later bekend wees. Teen gisteroggend was daar 96 gr. R-leerlinge en 188 gr. 1-leerlinge. Daar is vanjaar vyf gr. R-klasse en ses gr. 1-klasse waarvan vier Afrikaans is en twee Engels.
"Ons is so gereed as kan kom. Ons is opgewonde oor die nuwe skooljaar," het hy gesê.
Abukhanyise Mthonjeni (5) saam met haar ouma, Georgina en haar ma, Thandokazi.
Lucelle Jumat en haar seuntjie, Raquelle (6) van Maraiskamp, kort voor die begin van die nuwe skooljaar. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'