GEORGE NUUS - 'n Groep entrepreneurs in George, wat voorheen as deel van die SA Water Warriors na droogtegeteisterde boeregemeenskappe uitgereik het, het 'n nuwe hulporganisasie, SA for Hope, gestig wat boere nader aan die huis gaan help.
Volgens Pieter du Plessis, een van die vier direkteure van die nie-winsgewende organisasie, is SA for Hope om logistieke redes tot stand gebring.
"Ons het 'n baie groot groep vrywilligers in George en omdat dit so geweldig duur is om donasies na boere te vervoer, het ons besluit ons fokus op die Klein-Karoo en Oos-Kaap terwyl die ouens van die Kaap op die Wes- en Noord-Kaap konsentreer. Die brandstofonkoste vir 'n vrywilliger wat van Kaapstad na byvoorbeeld die Oos-Kaap ry, is ongelooflik hoog."
Onder die vaandel van SA Water Warriors het die groep vrywilligers van George in die verlede gehelp organiseer aan talryke uitreike aan boeregemeenskappe deur die land.
SA for Hope wil graag elke twee maande 'n uitreik doen en in die eerste week van November sal dit na die Warmbad-omgewing naby Calitzdorp wees wat al sewe jaar in 'n droogte vasgevang is.
'n Boer van die distrik sê 'n bietjie reën drie maande gelede het die veld 'n hupstoot gegee, maar daar was geen opvolgreën nie, so alles is weer baie droog. "Ons boorgate is droog. Boere is al vir jare moedeloos. Ons glo die reën sal kom, maar intussen moet ons oorleef en ons weet nie meer wat om te doen nie," het hy gesê.
Skenk hierdie naweek by Pick n Pay
Een van die vier lede van SA for Hope, Kobus Volschenk, doen tans donasie-insamelings vir dringende verligting vir die mense en diere in die Calitzdorp/Oudtshoorn-distrik. Nie-bederfbare kruideniersware, kos vir die diere en water word dringend benodig.
Skenkings kan van Donderdag 23 tot Saterdag 25 September tussen 10:00 en 14:00 by Pick n Pay, Vierdestraat, Loeriepark afgelewer word.
Boere verlaat plase
Volgens Du Plessis verlaat sommige boere hul plase, want geen inkomste word gegenereer nie. "Dié wat uithou, is onder uiterste druk en het al hul spaargeld opgebruik. Hulle het nêrens om heen te gaan nie. Groot getalle plaaswerkers het al hul werk weens die droogte verloor.
"Omliggende dorpe word ook geraak en sommige plekke raak spookdorpe met verlate winkels in die hoofstrate wat die storie van die impak van die droogte in Suid-Afrika vertel," sê Du Plessis.
Vervoerkoste is duur
Boere het water, veevoer, troeteldierkos en kos vir hul gesinne en werkersgesinne nodig. Een trok met veevoer van 'n donateur na boere, kos tussen R25 000 en R30 000 en met elke uitreik, wil SA for Hope ten minste vier tot ses trokke stuur om 'n verskil te kan maak. Hulle koop ook voer aan met 'n hoër voedingswaarde as hooi wat gewoonlik as donasie ontvang word.
"Ons probeer om 'n paar sakke mielies vir elke boer te gee en die koste per sak is R200. Ons spandeer verder ongeveer R20 000 op vars groente en maak kospakkies ter waarde van R350 vir elke gesin op." Vrywilligers wat die goedere help aanry, dra hul eie reiskoste, dus word die totale donasie aan boere deurgegee.
"Ons boere is onontbeerlik, want hulle sorg dat ons kos op die tafel het. Hulle het ons steun nóú nodig en SA for Hope kan slegs hulp verleen wanneer die publiek, besighede en vrywilligers donasies en bystand gee," sê Du Plessis.
Dele van die Klein-Karoo is al sewe jaar sonder reën.
Indien u wil help
Mense wat wil help, kan Du Plessis bel by 076 844 6435 of info@saforhope.co.za.
SA for Hope se registrasienommer is 2021/863183. Hulle kan 18A-sertifikate uitreik aan besighede wat skenk. Cilliers-boekhouers is die ouditeure.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'