Gallery
GEORGE NUUS - Daar is nuwe hoop vir gestremdes. 'n Nuwe inisiatief, Pelgrims Rehabilitasie in George, verskaf indiensopleiding vir gestremde mense en daar word gehoop dat dit hulle uiteindelik in staat sal stel om hul eie sakeondernemings te begin.
Die dryfkrag daaragter is Hannes Bosman, 'n bekende sakeman, wat 'n tydjie gelede die nie-winsgewende organisasie in George gestig het. Met die projek wil hy terugploeg in die gemeenskap.
Hy het Maandag aan George Herald gesê dit is Pelgrims Rehabilitasie se visie om liggaamlik gestremde individue in verskillende vaardighede op te lei en in staat te stel om sodoende hul eie inkomste te genereer en hulself te bemagtig.
Opleiding behels die vervaardiging van meubels vanuit onder meer houtpalette en industriële naaldwerk. Daar is uitbrei-dingsplanne en daar word gehoop om in die nabye toekoms basiese elektriese vaardighede asook vervaardiging van leerprodukte by te voeg.
In die stadium is daar sewe mense in diens. Die drie mense wat die opleiding verskaf is nie gestremd nie. Die mikpunt is om op enige gegewe tyd vyf leerlinge in diens te hê. Hulle word gekies na 'n keuringsproses en ontvang 'n basiese salaris.
Sean Snyman (heel links) en Hannes Bosman kyk hoe van die produkte vervaardig word. Foto: Eugene Gunning
'n Wye verskeidenheid produkte word te koop aangebied, waaronder meubels en selfs doodskiste. Produkte word ook op aanvraag vervaardig. So byvoorbeeld kan iemand spesifieke spesifikasies stel en dit word dan dienooreenkomstig vervaardig.
Alle winste word weer teruggeploeg tot voordeel van die organisasie.
Sean Snyman, aktivis vir gestremdes en self gestremd, het gesê alles het begin met 'n gesprek in 2020 tussen Bosman en homself.
Bosman wou 'n sentrum vir haweloses begin. Snyman het aan hom verduidelik daar is reeds so iets. Snyman het voorgestel hy kyk na iets om gestremdes te help. Daar is ondersoek ingestel en uiteindelik is die sentrum gevestig.
Fotogalery: Pelgrims Rehabilitasie nuut in George
Hy het die inisiatief verwelkom. "Daar is behoefte vir 'n plek waar gestremdes opgelei kan word en uiteindelik op hul eie kan gaan. Hierdie is 'n plek waar mense leer om selfstandig te kan wees en uiteindelik hul eie besigheid kan begin. Dit is nie 'n fabriek nie, dis 'n projek."
Mense wat meer inligting wil bekom kan die webtuiste www.pelgrims.co.za besoek.
Van die palette wat gebruik word en die nuwe produkte. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'