Update
GEORGE NUUS - Nog ‘n persoon is dood na die ongeluk wat Woensdag naby Heroldsbaai plaasgevind het.
'n 20-jarige man het gistermiddag in die George provinsiale hospitaal aan sy beserings beswyk. Hy het ernstige kopbeserings in die ongeluk opgedoen.
Sers. Chris Spies, polisiewoordvoeder, het vanoggend (27 Desember) bevestig dat die man aan sy beserings gesterf het. ‘n Seuntjie (5) is reeds Woensdag op die toneel dood verklaar.
Volgens Spies word ‘n klag van strafbare manslag ondersoek. Die name van die oorledenes is nog nie bekend gemaak nie.
Die ongeluk het Woensdag omstreeks 14:20 op die R404 plaasgevind, sowat 200m van die N2.
Betroubaar is verneem dat die ma van die seuntjie, die bestuurder van die voertuig was. Sy en die 3 insittendes was glo op pad terug van Heroldsbaai na George na ‘n uitstappie by die see. Die voertuig, ‘n wit Polo, met ‘n CAW-registrasie, het van suid na noord gery.
Blykbaar het die een agterwiel losgekom en die bestuurder het beheer oor die voertuig verloor. Dit het die voertuig van balans gegooi en dit het gerol. Die seuntjie is uit die voertuig geslinger. Volgens mense wat op die toneel was, is sy liggaam sowat 30 m gevind van waar die voertuig tot stilstand gekom het. Hy is op die toneel dood verklaar.
Die ma het ligte beserings opgedoen en haar arm is gebreek. ‘n Ander insittende is lig beseer.
Die name van die oorledenes is nog nie amptelik bekend gemaak nie.
Lees 'n vorige artikel: 5-jarige sterf in ongeluk
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'