Gallery Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Tafel-sit is verby, nóú soek ons antwoorde. Dit is die uitgangspunt van inwoners van New Dawn Park, 'n gebied in Pacaltsdorp waar inwoners gebuk gaan onder armoede, werkloosheid en swak lewensomstandighede.
New Dawn Parkers het verlede Donderdag daarin geslaag om owerhede se aandag te trek toe hulle verskeie motorbande in Proteastraat gebrand het. Die pad is geblokkeer en 'n groot hoeveelheid inwoners het by die betoging aangesluit. Ondersteuners van politieke partye soos die EFF en Icosa is in die skare opgemerk. Die brande is later deur George-brandweer geblus.
Hierdie betoging volg nadat inwoners verlede jaar voor hul wyksraadslid, Cecil Noble, se huis betoog het. Die gevolg was 'n blitsbesoek van die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, Anton Bredell. Betogers het opgemerk dat Bredell nog nie terugvoering gegee het na sy laaste besoek nie.
Tydens verlede week se betogings het Theresa Fortuin, 'n inwoner van die area en 'n Icosa-raadslid van die Garden Route-distriksmunisipaliteit, namens die inwoners gepraat. Ander gemeenskapsleiers sluit in Dalene Valentine, 'n inwoner van die gebied en Zinnia Malitie, 'n lid van die EFF se streekbevelspan.
Noble en onderburgemeester Charlotte Clarke, het die groep later kom toespreek. Hulle het egter die burgemeester, Melvin Naik, en munisipale bestuurder, Trevor Botha, se teenwoordigheid geëis.
Betogers steek motorbande aan die brand in Proteastraat, in New Dawn Park. Foto: Kristy Kolberg
Vullishope, slange en huise
Die onwettige vullishope wat in die woonbuurt voorkom en gesondheidsrisiko's inhou, het betogers ontstel. Sommige beweer hulle het slange in hul huise gevind weens die vullis. Die kinders sukkel ook met maagprobleme en hulle het 'n vlieëplaag, het die een inwoner gesê.
Ander kwessies sluit in hul groot behuisingsnood en beweerde onregverdige behandeling deur die munisipaliteit. 'n Inwoner wat vrugte en groente langs die pad verkoop het is glo summier gestop, terwyl die verkope van diere se derms rustig voortgaan op sypaadjies in Thembalethu.
Inwoners is ook ontevrede dat hulle by die GO GEORGE-vervoerkern in skuilings langs die pad (soms in die reën) moet staan, terwyl die groot onderdakarea nie ten volle benut word nie.
Kyk 'n video hieronder:
Saaltjie-ontmoeting
Verskeie DA-raadslede en amptenare, waaronder die waarnemende munisipale bestuurder, Walter Hendricks, onderburgemeester Clarke en die PBI-raadslid Virgill Gericke, het inwoners verlede Vrydag ('n dag na die betoging) by 'n klein saaltjie in New Dawn Park ontmoet. Fortuin het namens die groep met die afgevaardigdes gesels, en gesê hulle stel glad nie belang om te praat indien Naik en Botha nie ook teenwoordig is nie. "Want julle kan niks vir ons doen sonder daardie twee nie, dit help nie ons mors mekaar se tyd nie," het sy gesê.
George-raadslid Edmund Bussack (links), wyksraadslid Cecil Noble (tweede van links) was onder die afgevaardigdes wat die skare by 'n klein saaltjie in New Dawn Park toegespreek het. Foto: Michelle Pienaar
Noble en die span het later na buite gegaan en hul bes gedoen om die gemoedere te kalmeer. Noble het hulle probeer verseker dat hy wel hul belange op die hart dra. Die span afgevaardigdes het onderneem om aan die gemeenskap eerskomende Vrydag by dieselfde saaltjie terugvoering te gee.
Hendricks het by navraag gesê dat die kwessies wat deur die organiseerders van die betoging geopper is, nie alleenlik verband hou met dienslewering nie. "George-munisipaliteit bly daartoe verbind om uitdagings met dienslewering te hanteer waar dit voorkom, maar veroordeel gewelddadige protesaksie," het hy gesê.
Lees vorige artikels hier:
- New Dawn Parkers moet week wag vir antwoorde
- Opvolg: Raadslid spreek betogers toe
- Opvolg: Protesaksie in New Dawn Park
- Protesaksie in New Dawn Park
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'