Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Laerskool George-Suid (LGS) is met goeie rede opgewonde oor 'n bemagtigingsnaweek vir onderwysers wat vir Oktober beplan word. Hierdie simposium, Eco-Onnie, word in samewerking met die hoëronderwysinstelling Stadio by die Wilderness Hotel van 11 tot 12 Oktober aangebied.
Die tema van die geleentheid is groei. Groei as mens, as onderwyser en ook in elke aspek wat die onderwys mag bied.
Skoolhoof van Laerskool George-Suid en voorsitter van die SAOU in die Wes-Kaap, Sas du Plessis, het verduidelik dat hierdie simposium daarop gemik is om innerlike groei te stimuleer.
"Ons almal weet wat die uitdagings vir onderwysers is. Hierdie naweek sal vir elke onderwyser nuwe wind in hul seile gee, 'n huppel in hulle stap.
Ons wil onderwysers motiveer om die verskil in hul gemeenskap te wees. Onderwysers is die anker van elke skool en dit spoel oor in die gemeenskap."
VIDEO: Nuwe woema met naweek vir onderwysers
Sprekers
'n Dinamiese span sprekers gaan onderwysers tot hoër hoogtes inspireer. Die opvoedkundige sielkundige dr. Carla Bezuidenhout, die ervare oudskoolhoof mnr. Johan Bezuidenhout, sowel as die uitvoerende hoof van Stadio, prof. Patrick Bean, 'n spesialis in die veld van kunsmatige intelligensie in die onderrig- en leerprosesse, Warwick von Hagen, en Herman Pienaar, mede-eienaar van die privaat Facebook-groep Georgiete Staan Saam, gaan kursusgangers met waardevolle insette verryk. Die internasionale sportster Zola Budd Pieterse, spreek die onderwysers op Saterdag 12 Oktober om 10:00 toe.
"Ons moet dankbaar wees vir elke geleentheid en daaruit groei," het sy in haar bekendstelling gesê. Hierdie lewensfilosie sluit perfek aan by die groei-tema van Eco-Onnie.
Ons is daar!
Die skole wat reeds ingeskryf het is Laerskool Montagu, Laerskool Denne-oord, Laerskool Bredasdorp en uit ons plaaslike geledere is dit St Paul's Primary, Carpe Diem, Van Kervel Vaardigheidskool, Delville Park Primêr en Koeitjies en Kalfies-kleuterskool. Jong onderwysers wat nog net 'n paar jaar skoolgee, sowel as ouer onderwysers met jare se ondervinding, kan by die simposium baat.
Borg 'n onnie
Laerskool George-Suid is in die bevoor-regte posisie om self 'n paar onderwysers, teen R2 000 per onderwyser, vir hierdie onvergeetlike naweek van ervaring, verryking en samesyn te borg.
Group Editors is die mediaborg vir hierdie unieke geleentheid en borg ook 'n onderwyser vir hierdie unieke geleentheid.
"Ons daag graag ander besighede uit om dieselfde te doen, deur onderwysers van minder gegoede skole te help om waarde uit hierdie simposium te put," het hoof- uitvoerende beampte van Group Editors, Servaas de Kock, gesê.
LGS is reeds hard doenig om borge vir onderwysers van minder gegoede skole te verseker. Kontak Rolandi Steyn 083 382 6466 of rsteyn@lgs.co.za vir navrae in verband met borgskap.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’