GEORGE NUUS - 'n Nuwe navorsingsprojek, wat daarop gerig is om die situasie van die sogenaamde sakkrappers te verbeter, is deur Alewijn Dippenaar, 'n bekende inwoner begin. Dit is daarop gerig dat hulle hul volwaardige plek in die samelewing in George kan inneem en is nog in 'n vroeë stadium.
Dippenaar het by navraag bevestig dat hy met die projek begin het.
Die sakkrappers word reeds as 'n belangrike deel van die plaaslike informele ekonomie beskou. Daar word ook gehoop dat met die projek bygedra sal word om hul menswaardigheid te bevorder.
Baie mense ken hulle as sakkrappers wat soggens vroeg op die dae van vullisverwydering in die swart sakke op die sypaadjies van huiseienaars krap. Hulle soek byvoorbeeld karton en plastiek wat hulle inruil vir geld om aan die lewe te bly.
Dippenaar het onlangs in 'n roerende brief in George Herald 'n pleidooi gelewer om die sakkrappers ook as mense te beskou. Hy het onder meer geskryf hulle soek deur die sakke na iets van ekonomiese waarde net om die betrokke dag te kan oorleef.
Sakkrappers staan nie by die robot met 'n bordjie nie, maar hulle neem aktief deel aan die ekonomie, het hy geskryf. Hy het gevra dat hulle dalk net as mense gesien word en nie as sakkrappers nie.
Dippenaar sê daar was reaksie op sy brief. Dis vir hom duidelik dat mense disrespekvol praat van sogenaamde sakkrappers. Hy glo die vraag wat gevra moet word is hoekom gaan krap mense in sulke sakke.
Met die nuwe navorsingsprojek het veldwerkers interaksie met sakkrappers en verskeie vrae aan hulle gevra. Die inligting sal verwerk word om meer van hul situasie te leer.
Van die vrae wat aan hulle gevra word sluit in:
- Is dit 'n beroepskeuse of noodgedwonge?
- Wat word in die swart sakke gevind wat waardevol is? Watter items word primêr herwin?
- Is daar gebiede wat afgebaken is of kan enige persoon vryelik krap?
- Waarmee word die items vervoer?
- Waarheen word dit geneem?
- Die ouderdomme/geslag van die mense?
- Waar woon hulle?
- Wat is die beraamde tonnemaat van die herwinning?
- Hoeveel ure word per dag aan herwinning bestee en watter uitdagings word ervaar?
Volgens Dippenaar is hul situasie 'n realiteit en hulle maak 'n bydrae tot die informele ekonomie. Daar word gehoop om hul situasie te verbeter.
"In die stadium weet ons nie wat die oplossing en die uitkoms gaan wees nie, maar die projek kan rigting gee."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'