Alewijn Dippenaar, George
Vandag wil ek graag 'n saak uitmaak vir al die 'sakkrapers' in ons gemeenskap. Vroegoggend, deur al die seisoene, staan hulle op en pak 'n taak aan wat meeste mense nie eers kan visualiseer nie. Swart sak, en ook blou sakke, word metodies deursoek na iets wat ekonomiese waarde het, net om vandag te kan oorleef.
'Sakkrappers' staan nie by die robot met 'n bordjie wat bedel nie, nee, hulle neem aktief deel aan 'n deel van die ekonomie wat ons verkieslik so min moontlik van wil weet.
Rommel is 'n reuseprobleem en 'reduce, reuse and recycle' is die tema. Die vraag is natuurlik wie neem hierdie tema werklik ernstig op?
My respek vir 'sakkrappers' het bloot nie perke nie. Natuurlik is daar ook uitdagings met die proses wat gevolg word om die sakke te deursoek, maar kyk na die groter prentjie. Met groot sorg en moeite word herwinbare items versamel en vervoer met minder as basiese vervoermiddele, en dit vir 'n skamele paar rand.
Hierdie geldjie moet dan betaal vir watter behoefte die individue of gesin mag ervaar. In kort, dit sit brood op die tafel.
Elke gemeenskap het sy skadukant van prostitute, karwagte, mense wat op die strate woon, bedelaars, dwelmgebruikers en 'sakkrappers'. Almal probeer by môre uitkom op die beste en dikwels op die enigste manier wat hulle ken.
Maar my saak vandag is met "sakkrappers" en miskien, dalk net, moet ons begin om hulle as mense te sien en nie as 'sakkrappers' nie. Mense wat werklik die ekonomie van herwinning verstaan en eerder gehelp en ondersteun moet word.