Update
GEORGE NUUS - Die polisie het die name van die twee mense bekend gemaak wat in Woensdag se ongeluk naby Heroldsbaai dood is.
Hulle was Caleb Khoula (5) en Juan Titus (20) van Pacaltsdorp, George.
Volgens sers. Chris Spies polisiewoordvoerder is ‘n saak van strafbare manslag geopen en die ondersoek gaan voort.
Betroubaar is verneem dat Titus die seun van Clifford Titus, skoolhoof van Hoërskool Pacaltsdorp is. Caleb is die kleinseun van Mario Khoula wat aan die polisie in Pacaltsdorp verbonde is.
Beide die families is bekende inwoners van Pacaltsdorp.
Die ongeluk het Woensdag omstreeks 14:20 op die R404 plaasgevind, sowat 200m van die N2. Na verneem word was daar vier insittendes in die voertuig. Hulle was glo op pad terug van Heroldsbaai na George na ‘n uitstappie by die see. Die voertuig, ‘n wit Polo, met ‘n CAW-registrasie, het van suid na noord gery.
Blykbaar het die een agterwiel losgekom en die bestuurder het beheer oor die voertuig verloor. Dit het die voertuig van balans gegooi en dit het gerol. Die seuntjie is uit die voertuig geslinger. Volgens mense wat op die toneel was, is sy liggaam sowat 30 m gevind van waar die voertuig tot stilstand gekom het. Hy is op die toneel dood verklaar. Sy oupa het later op die toneel aangekom.
Die bestuurder het ligte beserings opgedoen en haar arm is gebreek. Titus wat ook in die voertuig was, is ernstig beseer en na ‘n plaaslike hospitaal geneem. Hy het later Woensdag aan sy beserings in die George provinsiale hospitaal beswyk.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'