GEORGE NUUS - Voormalige rugbyspeler Heinrich (Ollie) Terblanche, wat in 2015 weens 'n besering tydens 'n wedstryd verlam gelaat is, gaan pa word. Hy en sy vrou, Chanel, se beker loop oor oor die kleinding wat op pad is.
Heinrich sê een van sy grootste drome is om hand-aan-hand met sy vrou te kan loop, sonder 'n hulpmiddel. Hul baba het nou ekstra aansporing vir hom gebring om aan te hou veg vir sy genesing sodat hy ook "daai klein lyfie" kan ronddra.
"Dit het net 'n nuwe vuur in my hart aangesteek, want dit wat onmoontlik was, het moontlik geword," sê hy.
Hulle noem die baba hulle "wonderwerkie" want hy/sy is teen alle verwagting en doktersvoorspellings, natuurlik verwek.
Chanel, nou 15 weke swanger, sê hulle kan nie wag om die babatjie te ontmoet nie. "Dis die grootste geskenk wat ons kon kry ná alles waardeur ons hele familie is ná Heinrich se ongeluk en nadat ons ook as gesin my pa sewe maande gelede weens Covid verloor het."
Hulle praat al 'n geruime tyd daaroor om 'n gesin te begin, maar tog was die swangerskap 'n heerlike verrassing. Weens die aard van Heinrich se besering, kon hulle nie 'n tydlyn daaraan koppel nie. Dokters het hulle ná sy ongeluk daarop voorberei dat die kanse op kinders kry baie skraal was. Maar dit was altyd in hulle agterkop, sê Chanel.
"Vir die eerste ses jaar het ons ons alles gegee om te fokus op Heinrich se genesing voordat ons ons fokus 'n bietjie wou draai om met 'n gesin te begin. Toe ons ernstig begin praat het daaroor, het ons nie geweet hoe dit vir ons gaan uitwerk nie. Jy't maar altyd die hoop dat dit sal uitwerk, maar die dokters het ons meer in die ander rigting laat dink. Toe gebeur dit vir ons natuurlik. Dit is die grootste wonderwerk vir my en Heinrich."
Die geslag maak nie saak nie, want nadat Heinrich beseer is, het hulle besef hoe 'n groot geskenk 'n normale liggaam is. "Dit ('n normale baba) is ons grootste wens en ons glo dit ook met ons hele hart dat Jesus vir ons 'n perfekte bondeltjie liefde gaan gee wat ons harte gaan kom volmaak," sê Chanel.
Hulle is baie nuuskierig om die geslag te weet, want die babakamer moet gereedgemaak word. Hulle behoort uit te vind na die volgende ultraklank-skandering wat op ongeveer 18 weke sal wees. Dan wil hulle graag 'n spesiale aankondiging saam met familie en naby vriende hou.
Chanel sê sy het nie las van naarheid gehad nie, net sommige dae 'n effense "hol kol" op die maag en waterigheid in die mond. "Ek is wel net moeg, maar kan verder glad nie kla nie."
Babaspoortjies in 'n Rise Coffee-cappuccino om die Terblanche'e se swangerskap aan te kondig.
Doelgerig en vasberade
Die paartjie bly doelgerig en vasberade om alles reg te doen om Heinrich se herstelproses te bevorder. Deel daarvan is 'n oefenprogram ses dae van die week en "90%" gesonde eetprogram waarvan hulle nie afwyk nie. Heinrich sê hy en Chanel oefen nog volstoom, maar haar program sal aangepas word in die laaste trimester van die swangerskap.
Ollie is bemoedig deur die verbetering in sy stamina en motoriese funksie en terugkeer van gevoel in sy liggaam oor die afgelope twee of drie jaar. "Ek kom dit agter uit die manier waarop my liggaam reageer op sekere pyne en maniere van stap."
Hy gaan weer vir 'n stamselbehandeling hierdie jaar en volgende jaar gaan hulle Australië toe waar hy 'n gevorderde behandeling (gebaseer op neurofisika) kan ontvang
Om hom te help om vir langer tye te staan en loop, het hy 'n loopraam van die Chris Burger-fonds ontvang wat hy afwissel met sy krukke.
Hulle reëlings om Australië te besoek waar hy 'n gevorderde behandeling (gebaseer op neurofisika) kan ontvang, moes op die nippertjie gekanselleer word weens die pandemie.
Die span kenners wat hom daar sal behandel, sien baie potensiaal in sy vordering en wil hom graag daar hê. Hulle beplan dus om volgende jaar te gaan. Dan sal hulle 'n driemanskap wees met hul nuwe bondeltjie saam op die vliegtuig. "Chanel sê mos altyd 'teamwork is dreamwork'," lag Heinrich.
Rise Coffee
Dit gaan baie goed met Heinrich se koffiereeks, Rise Coffee, wat in 2019 bekendgestel is. "Ons is so dankbaar oor waarheen dit gaan en oor die ondersteuning wat ons kry, veral van verbruikers," sê hy.
Die koffie word onder meer aangehou by Spar- en Checkers-takke in die Tuinroete asook deur 'n hele klomp restaurante en akkommodasieplekke. "Wat vir ons spesiaal is, is dat ons storie weerspieël word in die koffie. Daardeur wil ons mense bemoedig en laat weet dat hulle bo hulle omstandighede kan uitstyg, maak nie saak waarteen hulle veg nie."
'n Gedeelte van die verdienste op elke pakkie koffie wat verkoop word, word aan die Chris Burger-fonds geskenk.
Babaspoortjies in 'n Rise Coffee-cappuccino om die Terblanche'e se swangerskap aan te kondig.
IN SHORT
Former Eagles rugby player Heinrich (Ollie) Terblanche who was paralysed in a rugby match in 2015, is soon to be a dad. He and his wife, Chanel, are overjoyed. She is 15 weeks pregnant. They say it is a miracle as the baby was conceived naturally. Heinrich's biggest dream is to be able to walk "hand-in-hand" with his wife and carry his child - without depending on a walking aid. The couple is planning to travel to Australia next year where advanced treatment is available that could enhance his recovery process.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'