Gallery Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die rieldans het verlede naweek diep spore in vele siele by die Herold Meander Leiwater Plaasfees getrap.
Die gesellige fees (Saterdag 25 November), wat vir plaaslike kunstenaars 'n platform skep om hul kreatiwiteit op 'n verhoog te deel en om die wortels van die bruin kultuur te bewaar, is vanjaar in sy derde jaar.
Quinton Adams, koördineerder van die fees, sê: "Kultuur help om 'n goeie selfbeeld te bou."
Bykans 200 mense het die fees bygewoon. Die vermaak was uit die boonste rakke met onder andere optredes deur verskeie plaaslike rieldansers, Norman Marks en die Eden Minstrels, Melody 6, Ocean Breeze en House of Entertainment.
Die gehoor het ook aan die storievertellers se lippe gehang. Van die vertellers was Pietie Mooney, Boetie Rhodes, Danneline Ramsden met Namakwalandse stories en Willem Fransman het sy gedigte voorgedra.
Dr. Willa Boezak, Khoisan-navorser en skrywer, het oor die Khoi-heldin Krotoa gepraat en terwyl die skrywer Diana Ferrus die verhaal van Saartjie Baartman gedeel het.
Kyk 'n video hieronder:
Stigters praat oor die ontstaan van die plaasfees
Die stigters en rolspelers sê hulle het 'n passie vir die Afrikaanse taal en die bewaring van kultuur.
Die dryfveer agter die besluit om ’n plaasfees te hou, was om mense op te voed oor kultuur. "Hierdie mense bring stories, kuns en kultuur," sê Sydene Cloete (medestigter) oor haar span.
Cloete sê kultuur gee aan mense 'n gevoel van behoort en sy is trots oor hoe die fees gegroei het.
"Die fees is ons figuurlike baba. Die baba het die kruipfase oorleef en goeie ruimtelike oriëntasie ondergaan. Vandag blink die fees in sy peuterjare."
Die stigters en rolspelers van die Herold Meander-plaasfees het almal 'n liefde vir taal. Voor sit Gregory Noble (seremoniemeester). Agter sit dr. Willa Boezak (storieverteller en skrywer), Danneline Ramsden (Khoisan-navorser en woordkunstenaar), Willem Fransman (digter/dramaturg), Sydene Cloete (persoonlike stilis), Diana Ferrus (skrywer en digter) en Quinton Adams (koördineerder).
Ramsden, woordkunstenaar en Namakwalandse storieverteller, sê die fees is elke jaar 'n hoogtepunt op haar kalender, want die vertonings wat aangebied word, is humoristies en iets om te beleef, "lag is mos die beste medisyne vir die siel", sê Ramsden.
Dr. Boezak het gesê hy is as predikant opgelei, maar die teks wat hom na kultuur gedryf het, was "my volk gaan ten gronde weens die gebrek aan kennis".
"Kennis oor jou geskiedenis en jou eie kultuur. As jy dit nie het nie, is dit asof jy nie 'n eie identiteit het nie, geen naelstring nie.
"Omdat daar nie 'n kennis is oor ons geskiedenis en onse godsdiens en onse kultuur nie, het ek dit my lewenstaak gemaak om ons kinders daaroor op te voed en hulle die nodige trots te gee. Ons het 'n ryk geskiedenis en ons het 'n kultuur."
Ferrus sê hulle wil die fees as 'n kulturele wapen gebruik om uit die oorlog van armoede te kom.
"Ons wil center stage wees, nie op die rand nie, wanneer ons onse stories oor onse mense vertel.
Die Herold-fees is die plek waar ons center stage is. Die stories gaan van die middel van die verhoog vertel word."
Lees vorige artikels:
ARTIKEL, VIDEO & FOTO'S: BRÜMILDA SWARTBOOI, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'