GEORGE NUUS - Treffende muurskilderye deur Hoekwil-skilder Ian Visser op 'n buitegebou op 'n geskiedkundige eiendom in dié skilderagtige dorpie is simbolies van sy oorsprong.
Dit gee ook vir toeriste met die eerste oogopslag 'n idee van die restaurante en hoofbakens wat hulle daar kan besoek.
Visser het 'n paar leerders van Laerskool Hoekwil betrek om te help met die projek wat hy geïnisieer het in aanloop tot die dorp se 100-jarige bestaan volgende jaar. Die skilderye is geverf op 'n ou gebou op die Gerber-eiendom op die Sewepassepad.
'n Olifant op die een muur wat in Touwsranten se rigting wys, versinnebeeld Hoekwil se oorspronklike naam, Olifantshoek. Op die muur wat na die pad wys, word die verskillende restaurante en twee hoofbakens - die kerk en skool - aangedui, en langsaan neem 'n landskapskildery van die omgewing ook vorm aan.
Visser beoog 'n soortgelyke projek in Touwsranten waar hy kinders van die gemeenskap wil betrek.
"Dit is 'n juweel van 'n dorp wat wye bekendstelling behoort te kry. Die omgewing is asemrowend, die atmosfeer idillies en hier is heerlike restaurante. Ek is opgewonde om die gemeenskap te betrek in projekte waarmee ons die potensiaal van ons dorp ten volle kan ontgin," sê Visser.
Die kleurvolle kaart op die Gerber-gebou op die Sewepassepad wat Ian Visser (middel) geskilder het om die restaurantroete in Hoekwil aan te dui. By hom is Laerskool Hoekwil se gr. 7-onderwyser Brenda Goosen en Johan Gerber.
Hy het opwindende idees en is tans in gesprek met ander kunstenaars en akteurs wat ook in Hoekwil woon om dit van die grond af te kry.
Visser het hom twee jaar gelede saam met sy gesin, sy vrou Karen en dogter Nadine, in Hoekwil gevestig. Hulle het die Cornerstone Creek-kunsgalery en -koffiewinkel ontwikkel wat ook 'n funksievenue bied. Hy beoog om ook 'n opelugteater te skep.
Van links is Emmanuel Archontakis, Layla Adams, Teague Bosman, kunstenaar Ian Visser, onderwyser Brenda Goosen en Suzanne Lintvelt. Foto's: Alida de Beer
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'