GEORGE NUUS - "Dit is uiters belangrik dat munisipaliteite saamwerk en met mekaar gesels." So sê George se burgemeester, Leon van Wyk, na Marlene van Staden, burgemeester van Modimolle-Mookgophong se besoek op 4 Julie.
Van Staden en 'n afvaardiging van dié plaaslike owerheid in Limpopo het benewens George ook Hessequa en Mosselbaai besoek.
Van Staden het die kuier versoek omdat hulle by George wou kom leer. Die Friedrich Naumann Foundation, 'n Duitse organisasie wat vir baie jare reeds demokrasie in Suid-Afrika bevorder, het die besoek gefinansier.
'n Lys van onderwerpe is vooraf gestuur en in George is die afvaardiging vertel van die ommeswaai waarmee die stadsraad en munisipaliteit besig is.
"Daarna is kleiner groepbesprekings gehou oor onder meer infrastruktuur, interne oudit, tenders en kontrakbestuur, elektrisiteit, vullis, verkeer, vlootbestuur, beplanning, goedkeuring van bouplanne, vrae vir onderhoude van nuwe personeel, ons munisipale toepassing (App) en kommunikasie.
Die doel van sulke besoeke is om amptenare hoop te gee en hulle aan te moedig - om hulle bewus te maak dat ander munisipaliteite soortgelyke uitdagings ervaar, maar dat daar oplossings is indien die deursettingsvermoë wel daar is.
"Ons deel beleide en dokumentasie wat kan help om hulle planne en beleide te verbeter. Die gedagte is ook dat hulle amptenare welkom is om ons span te skakel en selfs Teams-vergaderings te hou om kundigheid te deel."
Hy het die waarde van samewerking tussen munisipaliteite beklemtoon. "Ons leer bymekaar. George en ons naburige munisipaliteite werk gereeld saam."
George gesels ook met onder meer Kaapstad, Drakenstein en Stellenbosch.
"Ons help mekaar veral in krisisse, byvoorbeeld met onderdele op waterpyplyne en elektrisiteit. Ons het al die brandweer se watertrok na naburige dorpe gestuur waar hulle met waterkrisisse sukkel. Die afstand tussen Modimolle-Mookgophong en ons is natuurlik groot. George se begroting is ook omtrent vier keer so groot as Modimolle-Mookgophong."
Op die vraag wat George by hulle kan leer het hy geantwoord: "Hulle het toegang tot aanlyn entrepreneurs-opleiding, 'n projek wat ons ook moontlik kan instel."
Die ondervinding oor die afgelope twee jaar in George om sisteme weer in plek te kry is van groot waarde vir ander munisipaliteite wat nog dieselfde stappe moet neem.
"Die gesprekke met Modimolle-Mookgophong het bewys dat hulle uitdagings soortgelyk is met die waarmee ons worstel.
"Ek is tans lid van 'n groep van so 35 burgemeesters wat gereeld met mekaar kommunikeer en ons deel suksesse. Hierdie is gesonde kompetisie. Die stand van meeste munisipaliteite in die land wek groot kommer. Dit is gevolglik van uiterste belang dat beste praktyk gedeel word sodat ons almal kan baat vind uit die verbeteringe."
Hy sê George het baanbrekerswerk gedoen om die BFI (Budget Facility for Infrastructure) toegewing (grant) te ontvang. "Die werk wat tans gedoen word om hernubarekrag-projekte van stapel te stuur is ook uiters belangrik want ons is besig om eie kundigheid uit te bou."
Van Staden oor besoek:
Dit was nie 'n politieke besoek nie. Hulle wou leer. "Julle moet dankbaar wees dat julle amptenare het wat passievol is oor dienslewering," het sy gesê.
Dit wat die afvaardiging hier beleef het gaan toegepas word in hul munisipaliteit en daar gaan opvolggesprekke plaasvind. Dit was 'n baie leersame besoek en hulle sal weer wil kom kuier.
Volgens haar is die dorpe hier finansieel baie sterker as enige dorp in Limpopo. Dis skoon en hier is nie slaggate in die paaie nie. Die dorpe lyk mooi en die munisipaliteite kan hulself finansieel onderhou.
Volgens haar is die invorderings van dienstegeld in George 95% en waar hulle vandaan kom in Limpopo 55%. Dit het 'n groot impak. Sy het gesê investering in amptenare is belangriker as in politici. Al verander die politiek môre en sy is nie meer burgemeester nie, is dit die amptenare wat agterbly.
Inwoners in die Tuinroete moet dankbaar wees oor hoe goed hul dorpe bestuur word, het sy gesê.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'