GEORGE NUUS - "Mense wat aftree, drink heeldag koffie, ontspan en luister radio... ek tree nie af nie, maar tree uit diens van die NVG."
Met dié woorde som George se voormalige senior staatsaanklaer, Muller Redelinghuys, sy volgende hoofstuk op.
Ná 35 jaar in die regsdiens, sien hy homself nie as iemand wat klaar is nie, maar as iemand wat steeds iets het om by te dra.
Redelinghuys se lewenspad begin nederig op 'n plaas in die De Rust-distrik, waar hy sy hele skoolloopbaan voltooi het. Sy vroeë jare is gevorm deur harde werk en deursettingsvermoë. In 1989 is sy studies aan die Universiteit van Port Elizabeth onderbreek toe sy pa oorlede is, 'n gebeurtenis wat hom gedwing het om sy planne tydelik aan te pas.
Op 1 Desember 1990 het hy sy loopbaan by die Oudtshoorn-hof begin. Hy het as aanklaer en klerk van die strafhof gewerk en ook as onderhoudsklerk diens gedoen.
In 1991 het hy opleiding by die Justisie Kollege in Pretoria ontvang en praktiese ervaring in Kaapstad opgedoen. Hy is ook dieselfde jaar, op 29 Junie, getroud.
Teen 1993 was hy reeds 'n distrikshofaanklaer, waarna hy as streekhofaanklaer sake regoor die Suid-Kaap hanteer het.
Sy loopbaan het verder gegroei toe hy in 1995 streekhof-beheer-aanklaer in Oudtshoorn geword het, 'n pos wat hy tot 1999 beklee het. Hy het ook meer as 1 000 ure as waarnemende landdros diens gedoen.
'n Belangrike mylpaal het in 1999 gevolg toe hy as senior staatsaanklaer in George aangestel is, destyds die enigste in dié pos in die Suid-Kaap. Dit was ook 'n tyd van verandering in die land se regsbedeling.
"Ons kom van 'n tydperk waar aanklaers se werkgewer die department van justisie was en daarna is die nasionale vervolgingsgesag (NVG) in 1998 gestig wat toe die werkgewer van aanklaers word," vertel hy.
"Om saam met al die eenhede sedert 1998 te kon groei, is wat vir my uitstaan en waarop ek met trots terugkyk."
In die jare het hy talle komplekse en emosioneel uitdagende sake hanteer. Een wat uitstaan, was 'n geregtelike doodsondersoek na 'n noodlottige voorval naby De Rust, waar 'n Eskom-werker gesterf het nadat twee kraglyne, wat veronderstel was om afgeskael te wees, deur induksie weer lewendig geraak het.
Die tegniese aard van die saak het deeglike voorbereiding en kundigheid vereis. Hy kon daarin slaag om te bewys dat die verantwoordbare persoon van strafbare manslag aangekla word.
Hoofaanklaer vir die George-area, adv. Phumzile Nogonyoti, Adv. Nicolette Bell, direkteur van opebare vervolging in die Wes-Kaap en adv MP Heyns.
Nog 'n saak wat hom bybly, is 'n Mosselbaai-saak, die Staat teen Bruinders. Dit was 'n diep traumatiese verkragtingsaak waarin twee jong susters, wat oor die jare deur hulle pa verkrag is, betrokke was.
"Dit was moeilik," erken hy, veral omdat kinders destyds nog in 'n ope hof moes getuig sonder die ondersteuningsmeganismes wat vandag bestaan.
Iewers uit Afrika praat hy met George Herald in 'n telefoniese onderhoud en beklemtoon dat hy nie besig is om finaal te groet nie. "Ek gaan eers 'n sabbatsverlof neem," sê hy, "maar ek wil terugkom.
“Ek wil die NVG help, help bou en beskerm aan ons demokrasie-grondwet. Die NVG was meer as net 'n werkplek. Die NVG was my familie vir baie jare. Jy draai nie jou rug op familie nie en ek sal nooit in die toekoms teen die NVG werk nie," sluit hy af.
Geniet jou uittrede en sabbatsverlof Muller! Dankie vir al die geselsies en professionaliteit. Ek sien uit daarna om meer te hoor oor jou toekomsplanne wanneer jy terugkeer. - Red
Senior staatsaanklaer Muller Redelinghuys (regs) en adv. MP Heyns verlede Donderdag, 30 April, tydens hulle afskeidfunksie by die George-gholfbaan.
Lees ook ’n vorige berig:
End of an era at George Magistrate's Court as two legal stalwarts retire
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’