GEORGE NUUS - Toe adv. MP Heyns in 1991 by die hoofkantoor van justisie in Pretoria 'n vinger op 'n kaart druk en sê: "George klink na 'n lekker plek," kon hy kwalik voorsien dat die spontane besluit die begin sou wees van 'n regsloopbaan wat oor dekades sou strek en 'n diepe band met die Suid-Kaap sou vorm.
Die bekende en geliefde staatsaanklaer het sy loopbaan ná 35 jaar se diens op die regbank verlede Donderdag, 30 April, afgesluit.
Heyns het sy loopbaan in 1991 in George afgeskop as aanklaer in Gerhardt Brandt se hof, en dit was gou duidelik dat die hofsaal vir hom meer as net 'n werkplek was.
Oor die jare het hy wyd in die streek diens gedoen. Eers in die distriks- en streekhowe tot die hooggeregshof. Hy het sake hanteer regoor die Suid-Kaap, van Mosselbaai en Plettenbergbaai tot so ver as Swellendam.
Een van die meer unieke hoofstukke in sy loopbaan was sy tyd in Thembalethu, waar hy saam met landdros Gerald Mentor vir jare lank die hof feitlik alleen aan die gang gehou het.
In 2008 het Heyns se loopbaan 'n nuwe rigting ingeslaan toe hy deel geword het van die direktoraat van openbare vervolging (DPP) se eenheid vir georganiseerde misdaad.
As aanklaer verantwoordelik vir georganiseerde misdaad in die Suid-Kaap het hy 'n sleutelrol gespeel in komplekse sake.
"Ek het aankla baie geniet, die opwinding en adrenalien van die hof. Dis amper soos kaartspeel - jy kry jou kaarte, goed of sleg, en jy speel jou hand so goed jy kan."
Vir hom was vervolging nog altyd meer as net 'n beroep. "Dit is 'n baie vervullende werk, want wat jy aan die einde bereik, is die moeite werd, dit beteken iets," vertel hy.
Hy is ook vinnig om erkenning te gee aan dié wat langs hom gestaan het.
"Ek sê baie dankie vir die polisiemanne, hofordonnanse en speurders van die verskillende stasies waarmee ek oor die jare gewerk het en ook vir die Direktoraat vir Prioriteit Misdaadondersoek (DPCI) en provinsiale speurders. Die publiek kan weet dat ons goeie speurders in diens het."
Staatsaanklaer, adv. MP Heyns, stap vir oulaas uit die George-hof. Langs hom is senior staatsaanklaer, Guza Dumisani.
Nou, met sy aftrede, kyk Heyns met dankbaarheid terug en met vertroue vorentoe. "Ek sien uit na my aftrede en het volle vertroue in my kollegas wat by my oorneem."
Maar dit is die mense van George wat 'n blywende indruk gelaat het. "Dankie aan die gemeenskap van George. Ek het lief geraak vir al sy mense."
Geniet jou aftrede MP, hetsy op 'n boot op die oop see of op 'n fiets in die berg. Dit was altyd lekker om saam met jou te werk. - Red
Sien ook ’n vorige berig:
End of an era at George Magistrate's Court as two legal stalwarts retire
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’