GEORGE NUUS - Die plaaslike komediant en akteur, Moses Williams, verskyn eerskomende Saterdag, 13 Augustus, in die film, Hart-In-Bos wat om 20:00 op kykNET (DStv kanaal 144) uitgesaai word.
Saam met Williams verskyn nóg drie Georgiete, Aldo Calitz, Anton Treurnich en Brutney Singrew. Die film is deur Garden Route Media vervaardig met Lika Berning as direkteur.
Die plaaslike akteurs skuur skouers met groot name soos Hannes Muller van Groet die Grotman-faam, Ivan Zimmerman wat as Koert Weideman in die sepie Egoli: Plek van Goud bekendheid verwerf het en die veteraan aktrises Lindie Stander (Elise Kruger in Binnelanders) en Nadia Valvekens (Pippa in Binnelanders).
Hart-In-Bos is die eerste film waarin Williams 'n volwaardige rol speel en nie net in die agtergrond verskyn nie.
"Ek het dialoog!" het hy opgewonde aan George Herald gesê. Williams het ook in Julie in die film Moordenaars Karoo verskyn, wat deur Marius Wannenburg van Garden Route Media vervaardig is.
"Ons het altesaam vyf films in vyf maande geskiet. Dit het alles reeds die begin van die jaar plaasgevind.
Hart-In-Bos se verfilming het op my 27ste verjaarsdag, op 9 Februarie, in Hartenbos begin," het Williams gesê. "Dit is 'n romantiese komedie en ek is so bevoorreg om as komediant deel te wees van hierdie produksie. Komedie is 'n sterk fokus in my lewe, want deur komedie het ek lig in my lewe gebring."
Hart-In-Bos is ook ná Saterdag op Catch-Up te siene. Lees meer oor Williams en die hoogtepunte van sy jaar in volgende week se George Herald.
Die film Hart-In-Bos word Saterdag 13 Augustus om 20:00 op kykNET (DStv kanaal 144) uitgesaai.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'