Update
GEORGE NUUS - Die kruisondervraging van Patrick Muller (40), die man wat daarvan beskuldig word dat hy in 2019 vir Bianca Matroos (26) van New Dawnpark wreed verkrag en vermoor het, is die week in die rondgaande hooggeregshof in George afgesluit.
Die saak is tot vandag, Donderdag 3 Februarie, uitgestel vir slotbetoë.
Muller hou by sy weergawe en ontken nie dat hy die betrokke aand by Club Nitro in die middedorp was nie, maar hou vol dat hy te veel gedrink het en nie kan onthou wat gebeur het nie.
Volgens vorige getuienis is Muller Donderdagaand, 14 November 2019, saam met die oorledene in Club Nitro gesien. Hy is ook die volgende oggend deur twee getuies tussen Le Vallia en CTM langs Knysnaweg gesien. Matroos se liggaam is op Sondag 17 November in 'n veld by die George Riding Club gevind.
LEES MEER: Bianca Matroos is brutaal vermoor
Muller, van Rosemoor, is in die vroeë oggendure van 24 November, 'n week na Matroos se liggaam gevind is, in Club Nitro in hegtenis geneem.
Met die ondersoekbeampte se aankoms op die toneel die Sondagoggend omstreeks 07:40, was die oorledene se liggaam reeds in die vroeë stadium van ontbinding en haar regteroor was vergruis. Daar was ook twee boustene, een groot en die ander een kleiner, aan weerskante van haar liggaam opgemerk.
Die stene weeg saam 70 kg.
Die groter steen was op haar regterarm en die ander bebloede steen op haar linkerskouer naby haar kop. Sy het geen skoene aangehad nie en haar onderlyf was kaal. Sy is wreed verkrag en haar maag en bobene is deur die son gebrand.
Muller het nie 'n borgtogaansoek gebring nie en is sedert sy inhegtenis-neming in aanhouding.
Die saak dien voor regter Elize Steyn en advokaat Evadné Kortjé is vir die staat. Senior advokaat Johan Visser verteenwoordig vir Muller.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'