GEORGE NUUS - Die moordverhoor van die sewe mans wat van die 2017-moord op Gershwin Verlaat (22) verdink word, is vanoggend in die George-streekhof voortgesit.
Vier verdagtes, Charldon Heynes, Kesharne Mostert, Marlen Willeman en Brenton Pato is reeds sedert hul arrestasie in Desember 2017 in aanhouding.
In Junie 2018 is nog drie verdagtes, Kennith Windwaai, Ashwyn van Rooyen en Michael Campher in hegtenis geneem.
Windwaai is op borgtog vrygelaat. Van Rooyen en Campher is ook steeds in aanhouding.
Die mans, almal tussen die ouderdomme van 20 en 30, word aangekla van moord met voorbedagte rade en/of moord in die uitvoering van 'n gesamentlike oogmerk.
Verlaat se liggaam is op 2 Desember 2017 in Genesisstraat, Rosedale, met wonde aan sy kop gevind. Die aanval was vermoedelik 'n wraakaanval na Pato se broer, Johnwin (19) die vorige nag naby sy huis in Lotsstraat doodgesteek is.
Tydens haar getuienis het Roche Witbooi, 'n ooggetuie, haar weergawe van gebeure tydens die beweerde wraakaanval aan die hof gegee.
Volgens haar kon sy slegs vir Mostert op die moordtoneel identifiseer en later het sy vir Heynes saam met die groep mans gesien toe hulle verby haar gestap het.
Volgens haar was daar sowat 20 gewapende mans, almal sonder hemde, wat Verlaat aangerand.
Sy kon nie bevestig dat sy die ander 5 verdagtes op die toneel gewaar het nie.
Sy is onder kruisverhoor geplaas deur die verdagtes se regsverteenwoordigers, Winston Jansen en Clayton Samson, asook die staat, waarna die saak tot 5 Februarie 2020 uitgestel is.
Die saak dien voor landdros Praglathan Govender en Aspirito White is vir die staat.
Lees vorige artikels:
- Moordverhoor begin in George-Streekhof
- Nog 3 vas vir Rosedale-moord
- Geen borgtog vir verdagtes in jongman se moord
- Verdagte in hof vir jongman se moord
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'