Update
GEORGE NUUS - Die moordverhoor van die sewe mans wat van die 2017-moord op Gershwin Verlaat (22) verdink word, het Maandag 5 Augustus in die George-streekhof begin.
Vier verdagtes, Charldon Heynes, Kesharne Mostert, Marlen Willeman en Brenton Pato is reeds sedert hul arrestasie in Desember 2017 in aanhouding.
In Junie 2018 is nog drie verdagtes, Kennith Windwaai, Ashwyn van Rooyen en Michael Campher in hegtenis geneem. Windwaai is op borgtog vrygelaat. Van Rooyen en Campher is ook steeds in aanhouding.
Die mans, almal tussen die ouderdomme van 20 en 30, word aangekla van moord met voorbedagte rade en/of moord in die uitvoering van 'n gesamentlike oogmerk.
Verlaat se liggaam is op 2 Desember 2017 in Genesisstraat, Rosedale, met wonde aan sy kop gevind. Die aanval was vermoedelik 'n wraakaanval na Pato se broer, Johnwin (19) die vorige nag naby sy huis in Lotsstraat doodgesteek is.
Tydens haar getuienis het Dorina Frans, 'n taverne-eienaar in die area, haar weergawe van gebeure voor en na die beweerde wraakaanval, aan die hof gegee.
Volgens haar het sommige van die verdagtes voor en na Verlaat se moord by haar taverne bymekaargekom waar sy hulle hoor gesels het.
"Soos hulle gepraat het, het dit geklink hulle beplan iets," het Frans getuig.
Sy het ook gesê dat sy geen wapens in hul besit gewaar het nie.
Sy is onder kruisverhoor geplaas deur die verdagtes se regsverteenwoordigers, Winston Jansen en Clayton Samson, asook die staat, waarna die saak tot gister, Woensdag 7 Augustus, uitgestel is.
Weens 'n vol hofrol en 'n gebrek aan tyd, is die saak gister tot 19 Augustus uitgestel.
Die saak dien voor landdros Praglathan Govender en Aspirito White is vir die staat.
Lees vorige artikels:
- Nog 3 vas vir Rosedale-moord
- Geen borgtog vir verdagtes in jongman se moord
- Verdagte in hof vir jongman se moord
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'