GEORGE NUUS - Louis de Wet van George is bekommerd oor die toestand van die pragtige, historiese Montagupas wat op plekke erg verspoel het.
De Wet waarsku dat as instandhouding nie binnekort gedoen word nie, dit slegs vir 4x4-voertuie rybaar sal wees.
"Ons het verlede week die pas gaan ry om dit vir ons bure te wys en was geskok om te sien hoe die pad agteruitgegaan het. Die pas is 'n besienswaardigheid vir toeriste wat na George kom en daar kan nie toegelaat word dat dit net verwaarloos word nie.
"Toerisme word oral aangemoedig om werk te skep, maar die owerhede doen nie hulle deel om toerismegebiede in stand te hou nie," kla hy.
George Herald het die pas vroeër vandeesweek gaan ry en deel in De Wet se kommer. Benewens dele van die pad wat uitgekalwe is, is daar gapings op verskeie plekke in die pas se klipmuur wat dringend aandag nodig het.
Die kommunikasieafdeling van die Wes-Kaapse departement van vervoer en openbare werke het ontvangs erken van 'n navraag wat op 7 Oktober gestuur is vir kommentaar, maar geen verdere terugvoer is tot en met Woensdag 19 Oktober ontvang nie.
Gedeeltes van die pad is erg uitgespoel en bemoeilik die rit vir gewone voertuie. Foto: Alida de Beer
Paaltjies is ingeplant waar die klipwerk van die muur teen die afgrond afgetuimel het. Foto: Alida de Beer
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'