Mercia Draghoender, George-speaker, en Tertuis Simmers, DA-bestuurder vir die George-streek, het hulle plek Dinsdagoggend volgestaan by die verkeersligte in Borcherds, op die hoek van Thomasstraat en Nelson Mandela Boulevard.
Draghoender het inwoners, veral mans, sommer trompop geloop en die leviete voorgelees.
"Moenie jou vrou slaan nie, moenie haar seermaak nie. Kyk mooi na julle kinders," het Draghoender gemaan. Die blou aktiviste se poging is met 'n goeie gees ontvang. Die mense het al te lekker getoeter en gegroet met die verbyry.
Motoriste, taxibestuurders en heelwat voetgangers, wat op pad was werk toe het pamflette ontvang met 'n definisie van geweld en noodnommers.
Die nommers is as volg:
- Stop Gender Violence-hulplyn: 0800 150 150
- Kinderbeskermingseenheid (Child Protection Unit): 044 803 4616
- Kinderhulplyn (Childline): 080 055 555
- SAPS: 08600 10111
Patrick Sambokwe (in die motor) steek sy hande op in protes, nadat Mercia Draghoender hom voorgekeer het. Draghoender het 'n plakaat ontwerp waarin sy self vertoon word as 'n vrou wat mishandel is. "Dit is net grimering, ek sal nie aan my laat slaan nie," het sy die George Herald verseker.
Fotos: Michelle Pienaar
ARTIKEL: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'