Update
GEORGE NUUS - Inwoners van die informele nedersetting, Moeggeploeg in Pacaltsdorp, is vuisvoos met die misdaad in dié omgewing.
'n Memorandum waarin hulle hul lot bekla, is Vrydagoggend, 14 Augustus, aan die polisie oorhandig. Inwoners voel dat daar geen effektiewe polisiëring in die woongebied toegepas word nie en dat die polisie daarin faal om die gemeenskap teen misdadigers te beskerm.
Volgens 'n gemeenskapsleier, Jacques Goliath, leef inwoners van Moeggeploeg konstant in vrees. "70% van ons inwoners is enkelma's met kinders wat gereeld deur misdadigers geteiken word. Ons mense is gereeld slagoffers van huisbrake, diefstal, roof en aanranding.
"Verdagtes word aan die polisie oorhandig, maar die volgende dag loop hulle weer in ons strate rond. Pacaltsdorp-polisie kom gee nie eers aandag aan ons klagtes nie. Slagoffers moet stasie toe loop net om weer huis toe gestuur te word sonder dat hulle sake gevat word," sê hy.
Hulle het die polisie sewe dae gegee om op die memorandum te reageer.
Inwoners van Moeggeploeg wat Vrydag die oorhandiging van die memorandum bygewoon het.
Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, het ontvangs van die memorandum erken.
"Die polisiebestuur van die Eden-gebiedsgroep neem kennis van die ontevrede inwoners se griewe en onderneem om die kwessies wat uitgelig word, te ondersoek. Die inhoud is ook onder die aandag van die Pacaltsdorp-polisiebestuur gebring wat aan die gemeenskap sal rapporteer," sê Pojie.
Pojie het egter bygevoeg dat sommige van die klagtes in die memorandum ongegrond en nie heeltemal waar is nie.
"Klagtes word nie gespesifiseer nie. Die veralgemening maak dit onmoontlik om die meriete van elke saak te ondersoek. Ons sal egter terugkeer na die gemeenskap met ons bevindings," sê hy.
Gemeenskapsleier, Jacques Goliath, spreek die gemeenskap toe.
Volgens Goliath is 70% van Moeggeploeg se inwoners enkelma's wat gereeld deur misdaad geraak word. INLAS: Gemeenskapsleier, Jacques Goliath, spreek die gemeenskap toe. Foto's: Kristy Kolberg
Vorige artikel: Moeggeploegers sat vir misdaad
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'