GEORGE NUUS - Inwoners van die informele nedersetting Moeggeploeg in Pacaltsdorp, is tydelik dakloos gelaat na die naweek se reën.
Frances Roelfse en Desiré Bredenkamp wat namens die gemeenskap praat, sê hulle sal saam met George-munisipaliteit werk om hul huise weer leefbaar te maak.
“Dit was soos ’n stort wat op my oopgedraai is,” vertel Roelfse.
Sy is met die reënwater uit haar slaap wakker gemaak, toe was haar huis al enkeldiep onder water. Bredenkamp sé omdat die huise nie vloere het nie, is dit op die oomblik een nat gemors in die kamp.
Sowat 45 mense word tans in die Pacaltsdorp-gemeenskapsentrum gehuisves tot hulle huise droog en leefbaar is. Dit bring egter probleme soos nie genoeg komberse of matrasse vir almal nie. Die groep vra ook kosdonasies, omdat die kos wat beloof is nie op gereelde tye kom nie. “Hier is genoeg vroue wat kan help met die maak daarvan en die gebou het kombuisgeriewe daarvoor.”
Hulle het intussen ’n lys van al die huisgesinne met probleme, asook moontlike oplossings, aan die munisipaliteit gestuur.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'