Update
GEORGE NUUS - 'n Duitse herdershond, wat op Dinsdag 10 Desember uit haglike omstandighede uit New Dawn Park, Pacaltsdorp, gered is, sterk goed aan by die Tuinroete-dierebeskermingsvereniging (DBV).
Volgens senior inspekteur, Salomé Bruyns, sterk hy goed aan en het hy ook 'n stewige eetlus.
"Hy gee poot en eet baie mooi. Daar is baie mense wat belangstel om hom aan te neem, maar weens die haglike toestand waarin hy nou is, gaan hy nog 'n rukkie by die DBV moet wees," sê sy.
Bruyns sê 'n seun het haar laat weet van die hond wat erg verwaarloos en vasgemaak is. Toe sy op die toneel aankom, het sy 'n hond gevind wat vel en been was. Hy was vasgeketting langs die huis en duidelik vir dae aan een sonder kos of water gelos.
Die eienaar, wat na bewering die hond 'n paar maande gelede as 'gratis vir 'n goeie huis', gekry het, staar nou strafregtelike klagte in die gesig.
Volgens inligting was die hond in 'n puik toestand to die eienaar hom ontvang het.
Donasies vir sy mediese onkoste en kos, sal baie waardeer word. Om die DBV te ondersteun, kontak hulle óf by 044 878 1990 of e-pos hulle by branchg@grspca.co.za.
Die Duitse herdershond toe die DBV hom verlede week gevind het.
Lees 'n vorige artikel: German Shepherd left to starve
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’