GEORGE NUUS - Verskeie insidente in en rondom skole in George, laat mens besef dat niemand meer veilig is nie. 'n Leerder van York High is Maandagoggend by die kanthekkie van die skool in Palgravestraat met 'n mes gedreig en van haar selfoon beroof.
Dinsdagmiddag is 'n ouer van Laerskool George-Suid van haar selfoon en ID beroof toe sy haar kind opgetel het.
Daar was die week twee insidente by Hoërskool Pacaltsdorp. 'n Seun is Maandag met 'n klip in die gesig getref en blykbaar is dieselfde seun ook met 'n mes gedreig op pad skool toe.
Sosiale media kan nie meer byhou met al die klagtes van òf leerders òf ouers wat teikens raak van rowers nie.
Daar word gevra dat skole sekerheidskameras by skoolhekke installeer om die toegang asook vloei buite te monitor. 'n Bekommerde ouer het George Herald gister gebel, sy het op die benoude gille van die York High-leerder gereageer.
"My dogter het haar bygestaan en haar ouers asook die polisie gebel."
Sy sê misdaad in Palgravestraat ruk nou handuit, want haar dogter, dieselfde een wat die leerder bygestaan het, is Woensdagoggend buite haar huis se hekkie met 'n stok aangeval.
In die voorval by Laerskool George-Suid, sê 'n ouer dat sy die vrou wat beroof is, probeer help het deur die skelms agterna te sit. "Ek het net gestop, die man het verbygestap en my aangestaar, maar my voertuig is altyd gesluit en vensters toe. Hy was net om die draai op die hoek van Laing- en Meadestraat en het dadelik teruggekom. Glad nie gehardloop nie, net vinniger gestap en die tweede persoon het ook omgedraai en in 'n doodloopstaat verdwyn."
Sy sê sy het vermoed hy het die selfoon gesteel want hy het een in sy hand gehad en het baie skuldig gelyk. "Ek het met 'n spoed weggetrek toe die dame sê hy het haar foon gesteel. In die doodloopstaat uitgeklim en in die mense se erf gekyk, want hulle kruip gewoonlik weg. Ek het my seun opgetel en ons het om die blok gery om te sien of ons iets gewaar, maar hulle kruip te goed weg."
Sy vertel sy is terug na die dame, en het baie sleg gevoel dat sy haar nie verder kon help nie.
Bronagh Hammond, 'n woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD), sê gemeenskappe en ouers is eerstens verantwoordelik vir die veiligheid van hul kinders. Hammond sê die insidente wat aangemeld is, is kommerwekkend, maar hulle moet dit duidelik maak dat die insidente buite die skole gebeur het. "Ons kan natuurlik 'n rol speel om te werk aan gedragsprobleme, soos by Hoërskool Pacaltsdorp, waar die misdaadelemente van binne die skool kom."
Sy vra dat skole met die polisie moet saamwerk en sulke insidente aanmeld sodat Veilige Skole weet wat om te monitor. Sy sê die WKOD het nie die mag om leerders veilig te hou as hulle buite die skoolhekke is nie.
"Misdaad is 'n realiteit en almal moet op hul hoede wees. Ons sal vra dat leerders in groepe stap en seker te maak dat dinge soos selfone en enigiets van waarde weggesteek is."
Hammond sê daar is verskeie programme soos konflikbestuur, dwelmmisbruik-, teen boelie- en waardes programme wat hulle aan skole bied. "Dissipline begin by die huis, en ouers het 'n groot rol om te speel om hul kinders te ondersteun en bemoedig. Dis ook die ouer wat sy/haar kind van respek moet leer asook die waarde van die onderriginstansie waar hulle is."
Die WKOD voorsien ondersteuningstrukture soos omheining, veiligheidshekke, alarmstelsels asook beheerde toegang by skole. "Skole moet egter sulke voorvalle aan Veilige Skole rapporteer wat op hul beurt gesels met wetstoepassers oor groter polisie sigbaarheid."
Kapt. Nolonwabo Tshengu, 'n kommunikasiebeampte by George-polisie, sê sy kan die voorval by Laerskool George-Suid bevestig. Sy sê 'n 19-jarige vrou is blykbaar met 'n mes gedreig en toe van haar selfoon beroof. "'n Onbekende persoon het haar van agter genader en 'n mes teen haar keel gehou. Hy het die selfoon gegryp en weggehardloop."
Tshengu sê 'n roofsaak is geopen vir ondersoek. Sy vra dat enigiemand wat inligting het na vore moet kom of die ondersoekbeampte, sers. D Ndwenkuku by 044 803 4714 kontak.
The number of incidents of theft and violence occurring at or near schools is cause for growing concern. From Monday to Wednesday alone there have been four incidents involving weapons at local schools. The WCED says, though the department provides fencing, security gates, alarm systems and controlled entrance at schools, it does not have authority to address incidents that happen outside the school grounds. Schools should, however, report such incidents to Safe Schools, which will then communicate with law enforcement to procure better police visibility.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'