GEORGE NUUS - "Ek gaan haar baie mis. Ek mis haar reeds elke dag." Só het Tienie Halgryn, bekende in sportkringe, Dinsdag oor die afsterwe van sy vrou, Mirna Halgryn, gesê. "Sy het van my 'n mens gemaak."
Mirna, 'n oudverpleegkundige, is op Woensdag 25 Maart oorlede. Sy is in Senekal gebore en was 77 jaar oud.
Tydens haar werksloopbaan was sy 'n verpleegkundige en deur na-uurse studies het sy as ortopediese teatersuster gekwalifiseer. Die egpaar was 29 jaar getroud en woon sedert 1995 in George.
Halgryn het gesê Mirna was 'n groot rugbykenner. Tot en met haar afsterwe was sy 'n Cheetah-ondersteuner.
Volgens Halgryn het Mirna onlangs maagprobleme ontwikkel en na 'n ondersoek is pankreas- en lewerkanker by haar gediagnoseer.
Na die inperkingstyd sal 'n gedenkdiens gehou word. Vriende en belangstellendes sal op hoogte gehou word van 'n plek en datum.
Halgryn het Mirna se vriende bedank vir jare se vriendskap teenoor haar.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'